Binder kies kollega bo punteleer

Brad Binder

Deur Lucky Maree

Dit is iets wat geen motorrenliefhebber wil sien nie.

Francesco Bagnaia het op skouspelagtige wyse teen die hoë kant van die baan gebots in die openingsrondte van die Catalunya MotoGP, wat hom hoog die lug in geslinger het voor hy op die naat van sy rug in die middel van die baan beland het. En dit was nie die ergste nie.

Brad Binder op sy KTM, in ‘n stryd gewikkel met Maverick Viñales, het nie vir Pecco op die baan sien lê nie.

“Ek het niks opgemerk toe ek uit die tweede draai uit kom nie. Tot ek vir Pecco en sy motorfiets in die middel van die baan gesien het,” het hy later gesê.

“Toe ry ek deel van sy motorfiets raak. Ek het hard probeer om hom te mis, maar het sy been of iets getref.”

Binder het meer gedoen as om hom te tref. Hy het oor sy been, net onder die knie, gery. Dit het sonder twyfel gelyk asof Bagnaia met ‘n gebreekte been daarvan sou afkom.

Die wedren is oorbegin met Binder op sy tweede KTM, maar dit was waarskynlik die slegste resies van sy loopbaan. Hy het dadelik telke plekke gesak voordat hy ná ’n paar rondtes uitgetree het.

Die amptelike weergawe is dat daar fout was met die fiets en ‘n probleem met die bande. Maar een ding is seker, vir die eerste keer in sy lewe was Binder se hart nie in die wedren nie.

Hy het sy motorfiets parkeer en na die mediese eenheid gestap om by Pecco in te kyk. Daarna het ‘n verligte Binder met die media gesels.

“Eerlikwaar, toe ek daar instap het ek nie verwag om hom te sien chill nie. Hy het oukei gelyk. My enigste prioriteit vandag is dat ek nooit iemand seergemaak het nie,” het hy gesê.

Wat het dit aan sy kanse gedoen om die kampioenskap te wen? Dit lyk asof hy glad nie daaraan gedink het nie. Die besering van sy mededinger was die enigste ding op Binder se brein.

Op die foto hierbo: Brad Binder

Bron: Twitter