‘ANC sal met volstrekte meerderheid wen’ – Ramaphosa

Prez addressing media in Sandton

Deur Zukile Majova

Sy regering word geteister deur beurtkrag, swak dienslewering en ongebreidelde diefstal van openbare fondse, maar president Cyril Ramaphosa hou vol die ANC sal ‘n volstrekte meerderheid behaal in volgende jaar se verkiesing.

Hy het gesê sy vertroue kom van die lojale tradisionele ANC-kiesers wat volgens hom weer die die party se oorwinning sal waarborg.

“Die ANC gaan ‘n volstrekte meerderheid behaal, so ontspan. Ons werk nie daaraan om in ‘n koalisie te wees nie,” het hy gesê. “Ons is vol vertroue dat ons as oorwinnaars uit die stryd gaan tree.”

Hy het gesê die meerderheid van mense wat nog altyd vir die ANC gestem en gesteun het, sien dit steeds as die enigste party om die land te konsolideer en te verbeter.

“Slegs die ANC wat die transformasieproses begin het, kan voortgaan met die konsolidasie,” het hy in ‘n openbare gesprek met die land se media gesê.

Hy het gesê die ANC is steeds die enigste party in SA met alomteenwoordige steun in wyke en stemdistrikte landswyd.

Die vernaamste opposisieparty, die DA, het volgens die president slegs omvangryke verteenwoordiging in gebiede wat deur wit mense en ander minderheidsgroepe oorheers word. Selfs na 30 jaar van demokrasie is daar steeds geen DA-kantore in baie swart gemeenskappe in townships en dorpies nie.

Ramaphosa het dit kwytgeraak terwyl Eskom Fase 5-beurtkrag gedurende die naweek aangekondig het, ondanks die feit dat mynmaatskappye, swaar nywerhede en firmas gesluit is of met verminderde kapasiteit werk.

Eskom het gesê: “Na die verlies van ‘n bykomende vier opwekkingseenhede en die vereiste om noodreserwes aan te vul, sal Fase 5-beurtkrag Sondag geïmplementeer word.”

Dit beteken die staat sukkel om genoeg elektrisiteit vir basiese behoeftes soos kook en bad in huishoudings regoor die land te voorsien.

Ryk woonbuurte in die noorde van Johannesburg en Sandton het Sondag ses uur se elektrisiteit verloor, terwyl onderbrekings van tot 12 ure in sommige landelike gebiede aangemeld is.

Volgens Suid-Afrika se ouditeur-generaal het net 38 uit 257 munisipaliteite skoon oudits ontvang, terwyl meer as R32 miljard vrugteloos en verkwistend bestee is.

Minstens 7.9 miljoen mense is werkloos in Suid-Afrika, met sewe uit 10 jongmense in die land wat sonder werk sit.

Meer as 18 miljoen mense in Suid-Afrika ontvang maatskaplike toelaes.

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa het Saterdag in Sandton redakteurs en akademici toegespreek oor die ANC-verkiesingsmanifes

Bron: @MYANC