Kaapse polisie beveg misdaad met tegnologie

Cape mayor digs dashcams

Deur Buziwe Nocuze

Die aankondiging van liggaamskameras en kamerategnologie in die voertuie van Kaapse stadsbeamptes het gemengde reaksies van plaaslike inwoners ontlok.

Woensdag se demonstrasie van die nuwe tegnologie in Goodwood, Kaapstad, het die publiek met teenstrydige idees oor die implikasies daarvan gelaat.

Ongeveer 800 beamptes sal toegerus word met liggaamskameras, en vroeg volgende jaar sal 290 voertuie toegerus wees met paneelbord-gemonteerde kameras, algemeen bekend as ‘dashcams’.

Motoris Sinewonga Mbava het gesê hy bid dat die tegnologie korrek gebruik sal word.

“Ek het gesien hoe beamptes dit in ander lande gebruik en ek bid dat ons beamptes dit nie sal afskakel wanneer hulle iets onwettig doen en dan weer sal aanskakel wanneer dit hulle pas nie,” het hy gesê.

‘n Anonieme gemeenskapslid het ‘n sy siening uitgespreek met beide positiewe en moontlike nadele van die verwikkelinge.

“Ek weet nie hoe ek hieroor voel nie. Dit word beweer dat dit dinge makliker maak, maar mense sal steeds daaronder ly omdat ons mos weet dat beamptes nie almal dieselfde is nie,” het die inwoner gesê.

Dieselfde inwoner het die kwessie van omkopery aangespreek en ‘n potensiële voordeel uitgewys.

“Ek is seker dat korrupte beamptes wat omkoopgeld inpalm nie hiervan hou nie, want dit beteken geen ekstra geld in hul sakke nie.”

Burgemeester Geordin Hill-Lewis het die Stad se verbintenis tot die verbetering van veiligheid deur tegnologie beklemtoon. “In die volgende paar jaar sal hierdie tegnologie standaard wees vir ons veiligheidsdienste, om so Kaapstad veiliger te maak,” het hy gesê.

Hy het ook die potensiële voordele van outomatiese nommerplaatherkenningstegnologie uitgelig, wat onmiddellike waarskuwings vir gesoekte voertuie en uitstaande lasbriewe moontlik maak. “Interaksies met die publiek sal nou altyd aangeteken word,” het hy gesê.

Burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het gesê: “Met ons beamptes wat nou aan liggaamskameras gekoppel is, kan ons beheerkamer sien en hoor wat die beampte beleef, en dit is alles aangeteken en gereed om as bewys in die hof voorgelê te word.”

Op die foto hierbo: Ongeveer 800 Kaapstadse beamptes sal met liggaamskameras toegerus word en 290 dashcams sal in gebruik wees, volgens Kaapstad burgemeester Geordin Hill-Lewis

Bron: Verskaf