Deur Everson Luhanga
Die Goudstad het sy glans verloor.
‘n Gasontploffing vernietig ‘n straat in die middestad; onwettige mynwerkers tonnel in gevaarlike ou skagte; die geen-deurgang gebiede waar misdadigers heers word elke dag groter. Die reuk van verrotting, oop riole en onafgehaalde rommel is oral te vind.
En nou het minstens 76 mense, 12 van hulle kinders, doodgebrand toe ‘n vuur ‘n gebou in die middestad verswelg het. Die jongste slagoffer was een jaar oud.
Slegs weke gelede het Scrolla.Africa ‘n reeks onderhoude met die voormalige burgemeestersraadslid vir openbare veiligheid in Johannesburg, David Tembe, gepubliseer. Hy het ons vertel dat verlate geboue gekaap word deur gevaarlike misdadigers wat dit oorneem en aan kwesbare mense verhuur.
Watter soort internasionale stad laat toe dat gekaapte geboue in sy sentrale sakekern gedei – krotbuurte wat in die lug optoring en buite die bereik van wetstoepassing is, waar arm mense sonder die nodige papiere ingeprop is?
Behoeftige mense woon daar, baie van hulle ongedokumenteerde buitelanders wat na die stad stroom in die hoop op ‘n beter lewe. Maar hulle skop uiteindelik nes onder brûe of in stukkende geboue wat geen water, elektrisiteit of toilette het nie, wat nog te sê sekuriteit.
In die gebou waar 76 mense Donderdag dood is, het agt mense in een kamertjie gewoon. Mense het krothuise binne-in die gebou staangemaak.
In Augustus 2019, terwyl Tembe hoog op was in die metropolisie, het hy dieselfde gebou besoek waar dié tragedie gebeur het. “Ons was daar en het almal die gebou belet. Hoe die mense teruggekom het, weet ons glad nie.”
Hoekom het dit so lank geneem vir owerhede om op te tree?
Tembe het gesê dat hooggeplaaste amptenare in die stad onder die tafel vergoed word om dokumente te vervals vir misdadigers en dan anderpad te kyk.
In plaas daarvan om hul werk te doen en mense te beskerm, het sommige in die regering hulle by die sindikate geskaar, wat hulle onaantasbaar maak.
Politieke korrupsie maak Johannesburg dood.
Die verwoesting wat Donderdag die stad getref het, kon verhoed gewees het.
Dit is die verantwoordelikheid van die hele regering – nasionaal, provinsiaal en metro – om die stad te suiwer deur misdadigers te teiken en gekaapte, gevaarlike middestadgeboue weer in veilige sones te verander.
Ter wille van ons menslikheid is dit tyd om die Goudstad terug te eis – of baie meer mense sal sterf.
Op die foto hierbo: Die toneel van die jongste Joburg-ramp
Bron: Everson Luhanga