Wetenskaplikes met die lewens van hierdie unieke knaagdiere onder die loep het afgekom op ‘n geen wat die menslike lewensduur kan verleng.
Die geen, genaamd hyaluronaan sintase 2, of HAS2, is verantwoordelik vir die uitskakeling van hyaluronsuur – ‘n taai stof wat selle teen skade beskerm.
Molrotte is die rotsterre van sellulêre beskerming. Hulle produseer meer van hierdie stof as enige ander knaagdier.
Hul lewensduur, wat alle norme oortree, strek tot ‘n ongelooflike 41 jaar – dis presies 10 keer langer as ander knaagdiere van dieselfde grootte!
Hierdie buitengewone knaagdiere toon geen tekens van veroudering soos tipies by ander soogdiere te vinde nie.
Geen siektes soos neurodegenerasie, kardiovaskulêre probleme, artritis of kanker maak hierdie outjies olik nie.
Navorsers aan die Universiteit van Rochester het hul verbind tot die studie van genetiese modifikasies. Hulle het eers muise ondersoek en so ‘n voorsmakie gekry van die naakte molrot se HAS2-geen.
Die gemodifiseerde muise het beter gesondheid geniet en ‘n indrukwekkende 4.4% hupstoot in hul gemiddelde lewensduur gekry.
Dr Vera Gorbunova, een van die studie se meesterbreine, het aan LadBible gesê: “Ons studie bied ‘n beginselbewys dat unieke langlewendheidsmeganismes wat in hierdie soogdierspesies ontwikkel het, gebruik kan word om die lewensduur van ander soogdiere te verhoog.”
Hierdie knaagdiere het ook ‘n ekstra dosis HMW-HA – ‘n meganisme wat kanker bestry.
So, wat kom volgende? Die navorsers spoed voort en toets reeds molekules om die afbreek van menslike hyaluronaan te vertraag. Dr Andrei Seluanov, nog ‘n wetenskaplike by die saak betrokke, is optimisties.
“Ons hoop dat ons bevindinge die eerste, maar ver van die laaste, voorbeeld sal verskaf van hoe langlewende aanpassings van spesies met ‘n lang lewensduur, gebruik kan word om menslike lewensduur en gesondheid te bevoordeel.”
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Naakte molrot