Deur eie verslaggewer
President Cyril Ramaphosa het Sondagaand die nasie toegespreek en die weg gebaan vir die komende BRICS-beraad, wat Dinsdag in Sandton begin.
President Ramaphosa het Suid-Afrikaners genooi om hul gebruiklike gasvryheid te wys en die BRICS-afgevaardigdes – vanuit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – welkom te laat voel.
Hy het gesê sedert die aanbreek van demokrasie in 1994, die land se beleid was om vrede te bewerkstellig deur onderhandeling liewer as oorlog.
“Ons moet die gewere stilmaak om die voortslepende konflik op die vasteland te beëindig en vrede in Afrika te bring,” het hy gesê.
Suid-Afrika bied ondersteuning aan Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo, asook Palestina en Wes-Sahara. “Ons is nie neutraal oor beginselsake nie,” het hy gesê, “maar ons sal nie by ‘n stryd tussen globale moondhede ingesleep word nie.”
Hy het gesê Suid-Afrika verwelkom die stap om Oekraïense kinders uit Rusland te laat repatrieer, en dat die Swartsee-korridor heropen word om die beweging van graan te vergemaklik.
Hy het genoem dat dit Chinese president Xi Jinping se vierde staatsbesoek aan Suid-Afrika is en dat baie handelsooreenkomste in die komende dae onderteken sal word.
“BRICS is verantwoordelik vir ‘n kwart van die wêreldekonomie,” het Ramaphosa gesê.
“Dit is verantwoordelik vir ‘n vyfde van wêreldhandel en sluit 40% van die wêreldbevolking in. Suid-Afrika ondersteun die uitbreiding van BRICS, en meer as 20 lande het formeel aansoek gedoen om lidmaatskap.”
Ramaphosa het gesê Afrika is die middelpunt van Suid-Afrika se buitelandse beleid en het die mag van die mynbou-, voertuig- en vervaardigingsektore in die land uitgelig.
“Met elke rand wat ons inkry, skep ons werk,” het hy gesê.
Die fokus van sy toespraak oor Suid-Afrika se buitelandse beleid het stabiliteit en ‘n “meer inklusiewe” wêreld beklemtoon. “Dialoog en diplomasie is die enigste manier om vrede te bereik,” het hy gesê. “Ons doel is die beskerming van ons nasionale soewereiniteit en die welvaart van ons burgers.”