Deur Lucky Maree
Op die vooraand van die Wêreldbekertoernooi kon Suid-Afrika nie op ‘n beter naweek gehoop het nie, met die Springbokke se rekordoorwinning oor Wallis maar net een van die positiewe aspekte.
Die wen was nie onverwags nie. Wallis sukkel al vir maande lank om op dreef te kom en hul opbou tot die wedstryd kon beswaarlik slegter gegaan het. Op ‘n dag waar hulle werklik hul beste kant moes wys, het hulle van die eerste vyf minute af traag daaruit gesien. Dit kan nie maklik wees vir afrigter Warren Gatland nie.
Memes oor die 16-52 telling en Wallis wat vir Jan van Riebeeck die skuld gee, is reeds regoor sosiale media te sien.
Daar is ander kleiner maar noemenswaardige pluspunte vir die Bokke, wat ‘n riem onder die hart behoort te wees vir enige Springbok ondersteuner.
➤ Eerste op die lys is natuurlik die insae van kaptein Siya Kolisi. Nie net was hy van die begin af reg in die middel van die aksie nie, maar hy wys geen tekens van roes nie. Dit blyk dat sy oefenprogram presies reg was. Hy was sterk en skerp. Was daar ‘n effense mankheid toe hy ná die eerste helfte afgeloop het? Hopelik nie. Sy vertoning gee mens ook hoop vir die (moontlike) terugkeer van Handré Pollard. Indien wel die geval sal Pollard vlymskerp moet wees wanneer hy terugkom, want dit kan dalk net in een van die maak-of-breek Wêreldbeker-wedstryde wees.
➤ Die algehele optrede van die Bokke was uitsonderlik. Die span het niks gedoen om die ref in sy sak te laat vroetel nie. Damian Willemse se geelkaart was geregverdig, en hy het dit goed hanteer. Niemand het hul humeur verloor nie. Bongi Mbonambi moes dit geniet het om kaptein teen Argentinië te wees, want hy het gister baie praatjies gemaak met skeidsregter Andrew Brace. Alhoewel hy meestal reg was, is dit nooit ‘n goeie idee om rugby se reëls aan die skeidsregter te verduidelik nie – en om aanhoudend dieselfde punt te herhaal kan gevaarlik raak. Maar die einde van die wêreld is dit nie. Hy sal leer.
➤ Hantering was blitsig en glad. Daar was geen getjommel met die bal nie. Dit is duidelik dat die afrigters op basiese balvaardighede gefokus het en dit is goeie nuus.
➤ Aan die ander kant is daar natuurlik kommer oor Manie Libbok. Alhoewel sy algemene spel goed was, is sy skopwerk, beide van die kegel af en in oop spel, regtig nie op internasionale standaard nie. Hy word gemeet (soos dit hoort) aan mense soos Richie Mo’unga en Finn Russell, en hy is nie in hul liga nie. Daardie posisie vat hare op jou tande.
➤ Dit was geen verrassing dat Canan Moodie speler van die wedstryd was nie. Hy het dit verdien, maar dit kon ook na Pieter-Steph du Toit, RG Snyman of omtrent enigiemand anders gegaan het. Moodie was beter as enigiemand in die Bok-span onder die hoë bal, maar hy was omtrent die enigste een. Ons kan nie bekostig om te huiwer wanneer ons die All Blacks se woeste Barrett-broers aanvat nie, en ons het elke keer onseker gelyk. Daar is werk om te doen.
En as jy steeds wonder of Siya ‘n puik kaptein is, hoor bietjie wat hy ná die wedstryd oor Wallis gesê het: “Ons verstaan waardeur hulle gaan. Hulle kon opgegee het, maar hulle het aanhou baklei. Die mense van Wallis behoort trots op hulle te wees.”
Foto: Canan Moodie het verdien om as sterspeler van die wedstryd bekroon te word
Bron: SA Rugby