Angie oeh, wie se regte naam Angelique Greeff is, was 24 jaar oud toe sy Saterdagaand die aftog moes blaas in haar stryd teen kanker.
Haar musiekloopbaan was kort, maar sy het binne ‘n kwessie van ‘n paar jaar beroemdheid verwerf na haar eerste verskyning op die aanlyn musiektoneel in 2019, toe sy begin het om haar musiek onafhanklik te vervaardig en vry te stel.
Haar deurbraak was in Desember 2021, toe haar eerste virale enkelsnit, “Dis jou Wyfie”, mense se ore laat spits het. Die EPs “Seks in Afrikaans” en “Mooiste Meisies” is albei gedurende 2022 vrygestel.
Angie het vroeg verlede jaar kreatiewe kragte saamgespan met bestuurder Wynand Myburgh – bekend daarvoor dat hy saam met Afrikaanse musiekhelde soos Jack Parow en Fokofpolisiekar gewerk het. Van die dosyn liedjies wat sedertdien vrygestel is, is die grootste treffer waarskynlik “Seks in Afrikaans”.
Parow was ook deurslaggewend in wat as Angie se gewildste samewerking beskou word, toe hulle saam “Meisies en Partytjies” gemaak het. Van Pletzen, Biggy en Loufi was onder die ander rappers en bands waarmee sy suksesvol saamgewerk het.
Musikante en aanhangers regoor SA het hul skok en hartseer uitgespreek oor die ontluikende jong kunstenaar se skielike heengaan. Maar dit was nie haar eerste geveg met kanker nie; ’n kwaadaardige gewas is in 2022 uit haar rug verwyder.
In ‘n onderhoud met News24 verlede jaar het sy gesê sy het haar na musiek gewend toe die kanker in haar rug ontdek is. “Die eerste EP het my regtig daardeur gehelp, want ek het nie gedink aan siekwees nie. Ek wou net dink aan musiekmaak.”
Haar dood Saterdagaand, nadat sy op 15 Augustus gediagnoseer is, het die bedryf op hol gejaag. In ‘n roerende vertoning van ondersteuning het die BackaBuddy-veldtog om haar gesin met mediese uitgawes te help, reeds R278,000 se skenkings ontvang teen saktyd.
Angie oeh het haar musiek as ‘n platform gebruik om verandering teweeg te bring en bewustheid te skep rondom kwessies na aan haar hart.
“As ‘n openlik gay vrou wou sy vroueregte bevorder en ook uitlig hoe die samelewing teen vroue, klas en ras diskrimineer,” het Myburgh aan Pretoria Rekord gesê.
“Sy was vreesloos in hierdie saak en het baie teenstand daarvoor gekry, maar dit het nie, en sou haar nooit, kon keer nie.”
Op die foto hierbo: Afrikaanse rapper Angie oeh sal voortleef in haar musiek
Foto: Instagram/Angieoeh