Lek jou lippe af vir ‘n fees van rugby en sokker

Spurs v United

By Dylan Bettencourt

SPORTKEUR: Die Premierliga skop sy tweede wedstrydweek af, en dis tyd vir nog ‘n titaniese stryd.

➤ Die seisoen het begin met Chelsea wat gasheer gespeel het vir Liverpool, en dié Saterdag kom nog twee top-vier aanspraakmakers teen mekaar te staan ​​wanneer Manchester United by Tottenham Hotspur gaan kuier.

Hoewel die wedstryd opwindend was kon Spurs net ‘n enkele punt behaal teen Brentford in hul openingswedstryd, en sal nie vir ‘n tweede agtereenvolgende week al drie punte wil versmaai nie.

Ondanks ‘n gesukkel kon United Maandagaand ‘n skrale sege van 1-0 oor Wolves behaal.

Dit mag nog te vroeg wees om te sê, maar wedstryde soos hierdie sal belangrik wees aan die einde van die seisoen wanneer klubs vir posisies wedywer.

Verwag doele, verwag drama, en verwag drif wanneer Spurs Saterdagaand om 6.30nm teen United opdraf.

En as dit nie jou sokkerlus blus nie, kyk hoe Manchester City gasheer speel vir Newcastle United direk daarna – ‘n stryd tussen twee klubs wat nou albei aan Saoedi-Arabiërs behoort.

City, vars na hul Uefa Superbeker-oorwinning Woensdagaand, sal hoop om die opgewondenheid rondom Newcastle te demp, nadat laasgenoemde Aston Villa in hul openingswedstryd geklop het.

Die bohaai oor die Magpies is yslik, maar City sal probeer om dit hierdie naweek in die kiem te smoor.

Saterdag se eindstryd skop om 9m af.

Al die Premierliga-aksie sal regstreeks op DStv-kanaal 203 wees.

➤ Die hoogtepunt van die rugbynaweek is Wallis teen die Springbokke, maar geen rugbykyker wat sy sout werd is sal die wedstryd tussen Ierland en Engeland wou mis nie.

Suid-Afrika is die weghol-gunstelinge, maar wanneer die Walliese volkslied by die Principality-stadion in Cardiff uitbasuin word, sal dit die Walliese spelers ‘n ekstra skeut inspirasie gee. ‘n Bok-oorwinning is geen uitgemaakte saak nie!

‘n Dag voor die wedstryd is daar nog klomp Engelse balle in die lug terwyl hulle hulself staal om teen Ierland in Dublin te speel. Ierland ruk met vasberadenheid na hul Wêreldbeker-doelwitte op, maar Engeland in totale wanorde.

Met die Owen Farrell-sage (wat vinnig in die Farrell-skandaal ontaard) nog vars nuus is dit enigiemand se raaiskoot wat Engeland afrigter Steve Borthwick met sy spankeuse gaan doen. Nie net is hy besig om die dekstoele op die Titanic te rangskik nie, hy weet nie eens met watter stoele hy moet werk nie! Verwag ‘n groot telling in Ierland se guns.

Wallis vs Suid-Afrika op DStv-kanaal 211 Saterdag om 4.15nm.

Ierland teen Engeland op DStv-kanaal 211 Saterdag om 6.30nm.

➤ Die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue bereik Sondag sy hoogtepunt wanneer Engeland en Spanje dit uitspook vir die titel van wêreldkampioene.

Albei kante het noue oorwinnings in hul halfeindstryde behaal, maar dis nou alles deel van die verlede; die belangrikste oomblik van hul lewens is nou net om die draai.

Daar kan geen beter gevoel wees as om die Wêreldbeker te wen nie, en vir een nasie sal dit 90 minute ná die afskop Sondag om 12-uur ‘n werklikheid word.

Al hul harde werk die afgelope vier jaar het gelei tot hierdie oomblik – ‘n oomblik wat moontlik net eenkeer in ‘n leeftyd gebeur.

Die aksie word regstreeks op DStv-kanaal 203 uitgesaai.

Op die foto hierbo: Spurs pak United

Bron: Twitter