Bokkies laat o-20-Wêreldbeker val

Deur Dezzi Lennox

Suid-Afrika se onder-20 rugbyspan se verloortelling teen Ierland in die halfeindronde van die Wêreldbeker (31-12) lyk sleg genoeg, maar die verhaal wat hom op die veld afgespeel het, was heelwat erger.

Hulle het ’n kans gehad om die Iere te verras, en dit in die eerste 20 minute weggesmyt.

Na die afskop het hulle die besoekers dadelik op die agtervoet diep in hulle eie kwartgebied gedwing, die een aanvalskans na die ander geskep… en dan verbrou.

Hulle kon met tien punte of meer voorgeloop het as hulle nou en dan die bal kon raakvang, wat die trant van die wedstryd op sy kop sou omdop. Sake kon baie anders afgeloop het as Ierland se verdediging beproef is.

Pleks daarvan kon hulle uit-en-uit op aanval fokus, en dit het hulle skitterend gedoen en vier drieë gedruk wat almal in die doele omskep is.

Wat die Bokkies betref: Hoe is dit moontlik dat ’n span met soveel talent so min daarmee kan uitrig? Moeilik om te sê, sinloos om vinger te wys. Mens kan net hoop die jongetjies het iets geleer wat hulle kan toepas wanneer hulle veel taaier senior geledere betree.

Puntemakers:

Ierland: Drieë deur James Nicholson (2), Brian Gleeson en Sam Berman.

Vier doelskoppe en ’n strafdoel deur Sam Prendergast.

Suid-Afrika: Drieë deur Imad Khan en Coetzee le Roux.

Doelskop: Jean Smith.

Frankryk het Engeland met 52-31 in die ander halfeind platgeloop. Die eindstryd skop Vrydagmiddag halfvyf af.

In die foto hierbo: Ierland vier fees

Fotobron: Twitter