Junior Bokkies skraap deur tot in halfeind

Deur Dezzi Lennox

SA 24 (7) Argentinië 16 (16)

Suid-Afrika het Dinsdagaand met 12 minute se skitterspel in Athlone net-net ’n plek in die halfeindronde van die onder-20 Wêreldbeker voor die erg onderskatte Georgië weggeraap.

Hulle was rustyd 16-7 agter teen Argentinië in ’n wedstryd wat hulle moes wen om deur te dring, en as mens besonder vrygewig wou wees, sou mens hulle spel tot in daardie stadium as derdespan-klubvlak beskryf.

Hulle skrums het een pad geken, en dit was agteruit, en hulle lynstane was ’n getjommel waarvoor bogenoemde derde span hulle oë uit hulle koppe sou skaam.

Maar daar gebeur ’n amperse wonderwerk ná rustyd, toe dit skielik lyk of hulle lushet vir speel. Hulle duik die Argentyne agter die voordeellyn plat, wen losballe, staan amper-amper stewig in die skrums en oorhandig nie hulle eie lynstaanballe aan Argentinië se skrumskakel nie.

Dit was nog nie genoeg om die agterstand uit te wis nie, totdat die Bokkies se agtsteman, Corné Beets, verreweg die beste speler op die veld, twee keer gate in Argentynse verdediging gesien, benut, en die doellyn oorgesteek het.

Hulle het saam met Georgië op nege punte geëindig, en boonop met ’n swakker punteverskil, maar deurgedring omdat hulle die wedstryd tussen die twee spanne vroeg in die toernooi gewen het.

Die jong Bokkies speel Sondag teen Ierland, wat sover in elke faset van die spel strate beter gelyk het. Maar daardie laaste 12 minute in Dinsdagaand se wedstryd is genoeg rede om te glo hulle kan verras.

Frankryk, die enigste span wat met ’n voltal geëindig het, is oorweldigende gunstelinge teen Engeland, wat deurdring as “gelukkige verloorders”, die beste span wat tweede in ’n afdeling kon eindig, ’n kortkop voor Nieu-Seeland.

In die foto hierbo: Corné Beets

Fotobron: SA Rugby