En daar ontspoor die Windies-trein

Deur Dezzi Lennox

Wie sou dit ooit kon droom? Die eens-magtige Wes-Indiese Eilande haal nie die krieket-Wêreldbeker nie. Die toernooi in Indië later vanjaar is baie van sy glans kwyt, helaas.

Mens kon nog altyd op dié span gereken het om te verras, en wedstryde te wen waarin hulle dood en begrawe gelyk het. Lank, lank gelede was hulle feitlik onoorwinlik in eendagkrieket.

Deesdae verloor hulle wedstryde wat hulle lag-lag moes wen. En nie sommer enige wedstryde nie. In die kwalifiseende toernooi vir die Wêreldbeker, drie pakke slae op ’n streep… teen Zimbabwe, Nederland en Skotland.

Die een wat hulle moed gebreek het, sou mens raai, was dié teen Nederland, toe hulle ’n slag gekolf het soos mens sou verwag, en 374 lopies opgestapel het.

Ek toe kom hulle met ’n lagwekkende boul- en veldwerkvertoning vorendag, en gee die rateltaai maar erg middelmatige Dutchies ’n kans om gelykop te trek met die einste 374 en ’n superboulbeurt af te dwing.

En dis daar waar die Windies-trein nie net ontspoor het nie, maar oor ’n brug tot in ’n rivier getuimel het.

Dis Logan van Beek, Nederland se nommer 8-kolwer, teen Jason Holder, die Windies se spesialisbouler in die doodsnikke, wat al tientalle wedstryde vir hulle gewen het.

Van Beek slag hom af. Drie sesse en drie viere. 30 lopies, die duurste nog in ’n superboulbeurt wat deur een van die wêreld se elite-spanne – wat die Windies dalk toe nog was – afgestuur is. Die Windies se windverwaaide poging? Agt. Ja. Agt lopies teen Nederland in ’n superboulbeurt.

Hulle fut was uit, hulle moed gebreek. Hulle laaste wedstryd was teen Skotand, wat hulleself verbaas het deur so ver te vorder. Die Skotte knikker ’n treurige Windies uit vir 181, en jaag dit op ’n drafstap, met sewe paaltjies en ses boulbeurte in die bank. Neusie verby. Era verby.

Mens wonder wat Sir Vivian Richards, simbool van die vreeslose en vreesaanjaende Windies van ouds, hiervan sou sê. Moet hom liewers nie vra nie.

In die foto hierbo: Die ou dae, toe die Windies nog kon speel

Fotobron: @musskey