BBP-polisiebeamptes se pynparade op video vasgelê

Deur Everson Luhanga

Polisiebeamptes is verfilm terwyl hulle motoriste aanrand – en die SAPD het die voorval bevestig.

Dit is onduidelik waar dit gebeur het, maar berigte dui daarop dat dit Maandag op die N1 in Johannesburg plaasgevind het.

In die video word gesien hoe beamptes een man oor die pad sleep en hom dan telkemale skop, saam met nog ‘n man wat ‘n VW Polo bestuur het.

Een van die mans wat aangerand is bly op die grond lê terwyl die ander een daarin slaag om op te staan ​​nadat die swaar gewapende polisiebeamptes in hul motors geklim en weggery het.

Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het gesê hulle is besig om die slagoffers op te spoor wat na bewering deur SAPD-lede aangerand is.

“Nadat SAPD-bestuur bewus gemaak is van die voorval, wat vasgelê is op ‘n videogreep wat tans die rondtes op verskeie mediaplatforms doen, het die SAPD-bestuur die proses begin om die slagoffers op te spoor om verklarings van hulle te bekom terwyl ’n interne departementele ondersoek aan die gang is,” sê Mathe.

Sy het gesê ‘n voorlopige verslag dui daarop dat die voertuie wat in die video gesien word, aan die SAPD behoort en die mans wat in die video gesien word, is SAPD-lede.

“Terwyl die interne departementele ondersoek na die gedrag van die lede aan die gang is, distansieer die SAPD hom van die gedrag wat in die video uitgebeeld word wat nie strook met die waardes en gedragskode van die SAPD nie. Daar word van alle SAPD-lede verwag om hierdie waardes te handhaaf, insluitend integriteit, professionaliteit, aanspreeklikheid en respek vir menseregte.”

Sy het gesê die Nasionale Kommissaris van Polisie, Generaal Fannie Masemola, het die gedrag van hierdie lede veroordeel.

“Lede van die SAPD is veronderstel om die fundamentele regte van elke persoon te handhaaf en te beskerm en die bevoegdhede wat aan hulle verleen is uit te oefen op ‘n verantwoordelike en beheerde wyse. Sulke optrede kan nie goedgekeur word nie, ongeag die omstandighede,” het Masemola gesê.

Die slagoffers word aangemoedig om Brigadier Athlenda Mathe by 082 040 8808 te kontak vir ondersoekdoeleindes