Deur Razeen Gutta
Ons Jabeur, Tunisië se 28-jarige tennisheld, wat in 2022 die eerste vrou uit Afrika geword het wat die enkelspel-eindstryd op Wimbledon kon haal, het die talent om vanjaar ’n stappie vorentoe te neem en die silwerware omhoog te hou.
As sy dit regkry sal sy die eerste vrou uit Afrika en eerste Arabiese vrou wees wat ’n Grand Slam titel wen.
Sy het van ’n besering herstel kort voor die Franse Ope, en daar die kwarteindronde gehaal. Wimbledon se vinnige grasbaan pas beter by haar styl.
“Ek wil die titel gaan haal,” het sy op SuperSport gesê. “Dis my droom; dis waarna en nog altyd streef.” Sy is nommer ses in die wêreld.
Twee spelers uit Suid-Afrika, Lloyd Harris en Kgothatso Montjane, mik ook na glorie by die All England Club.
Harris, wat goed op dreef is, gaan in die enkel- en dubbelspelafdelings meeding.
Hy en Yuki Bhambri van India het Saterdag die dubbelspel in die Mallorca ATP 250 gewen. Dié keer span hy kragte saam met die Amerikaner Robert Galloway. Hulle speel Woensdag hulle eerste wedstryd.
Montjane, van Limpopo, is een van die land se beste rolstoelspelers tot op hede en het vanjaar die eerste Suid-Afrikaanse vrou sedert 1981 geword wat die Franse Ope kon wen.
Sy het aan Jacaranda FM gesê sy glo sy het onvoltooide sake op Wimbledon. In 2018 het sy die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou gword wat daar deelneem, en in 2021 het sy die eindstryd gehaal. Nou kan sy haar onlangse Grand Slam-oorwinning herhaal.
Al die Wimbledon-aksie is regstreeks op SuperSport.
In die foto hierbo: Ons Jabeur
Fotobron: @Ons_Jabeur