Deur Buziwe Nocuze
Buitelanders in Zwelihle township in Hermanus in die Wes-Kaap leef in vrees. Plaaslike inwoners het wraak gesweer ná die skokkende verkragting en moord op ’n jong meisie, al kon niemand bevestig dat die verdagte wat aangekeer is wel van ’n ander land afkomstig is nie.
Hulle wil nou al die buitelanders uit die dorp verjaag, en van hulle winkels is beskadig en geplunder.
Die meisie se liggaam is laasweek in ’n plastieksak ontdek, en stories het gou versprei dat die moordenaar nie ’n Suid-Afrikaanse burger is nie. ’n Groep jeugdiges het die verdagte se huurhuis afgebrand.
Met spanning wat hoog loop, het etlike inwoners hulle teen die haatveldtog uitgespreek
Een van hulle het aan Scrolla.Africa gesê: “Jy kan nie ’n hele groep die skuld gee vir een persoon se wandade nie. Onskuldige mense word nou verniet gestraf. Die moordenaar moet boet vir sy dade, maar los die ander mense uit.”
Daarteenoor het ’n ander inwoner gesê die inkomelinge beskerm boosdoeners uit hulle geledere en moet almal eerder trap.
Gcobani Ndzongana, leier van die Land Party, wat die wyk in die vorige verkiesing gewen het, het homself en sy party gedistansiëer van die geweld en dreigemente teen inkomelinge.
“Ek het partylede aangesê om weg te bly van geweld en diefstal,” het Ndzongana gesê, “en buitelandse winkeleienaars gevra om hulle winkels oop te hou. Die Land Party het in die naweek die winkels teen plundery beskerm, en sal dit aanhou doen.”
In die foto hierbo: Spanning loop hoog in Zwelihle township in Hermanus na die moord op ’n jong meisie
Fotobron: Verskaf