Deur personeelverslaggewer
Die ergste oproer in Frankryk in dekades het die naweek oorgespoel na die omliggende lande van Switserland en België.
Die geweld is ontketen deur die noodlottige skietery van ‘n tiener deur polisie verlede week.
Die polisie het Saterdag ten minste 700 arrestasies tydens ‘n vyfde nag van opluste gemaak, terwyl ‘n plaaslike burgemeester se vrou en dogter beseer is tydens ‘n aanval op sy huis.
Flitspuntstede het Lyon, Marseille en Grenoble ingesluit, met betogende minderjariges wat motors aan die brand gesteek het, winkels geplunder het, infrastruktuur beskadig en met die polisie gebots het.
Die Franse Ministerie van Binnelandse Sake het Sondag ‘n voorlopige telling van 719 arrestasies oornag aangekondig, vergeleke met 1,300 Vrydagaand.
Intussen was die buurlande Switserland en België ook onderwerp aan onrus soortgelyk aan die geweld in Frankryk.
Saterdag is verskeie winkelvensters in die Switserse stad Lausanne stukkend geslaan toe beamptes jongmense uiteengejaag het wat hulle bestook het met plaveistene en ‘n Molotof-brandbom, het die polisie gesê. Sowat ‘n dosyn mense is in die Belgiese hoofstad, Brussel, aangehou en verskeie brande is onder beheer gebring.
Meer as 40 beamptes is beseer, 577 voertuie en 74 geboue aan die brand gesteek, en 871 vure is in strate en ander openbare ruimtes aangesteek, het die ministerie gesê. “Vyf-en-veertigduisend polisiebeamptes en duisende brandbestryders is gemobiliseer om orde af te dwing. Hul optrede … het vir ‘n stiller nag gesorg,” is bygevoeg.
In die ernstigste voorval het oproeriges omstreeks 1:30vm met ‘n brandende motor vasgejaag in die huis van Vincent Jeanbrun, die burgemeester van L’Haÿ-les-Roses, nege myl suid van Parys. Jeanbrun het laat by die stadsaal gewerk, maar sy vrou en een van sy twee kinders is beseer toe hulle gevlug het.
“Gisteraand was ‘n nuwe mylpaal van afgrys en skande,” het die burgemeester, van die konserwatiewe Les Républicains-party, getwiet. Hy het dit as “daad van onuitspreeklike lafhartigheid” veroordeel. Die plaaslike aanklaer het Sondag gesê die aanval word as poging tot moord ondersoek.
Die grootste flitspunt was in Marseille, waar die polisie traangas afgevuur het en in straatgevegte betrokke was met jongmense, baie in hul vroeë tienerjare, voordat hulle uiteindelik laatnag van die stad se sentrale Canebièrelaan verjaag is.
Die begrafnis van die 17-jarige Nahel M, wat Dinsdag dood is nadat hy tydens ‘n verkeersstop deur ‘n polisiebeampte geskiet is, is Saterdag vreedsaam gehou in die Paryse voorstad Nanterre, waar hy gewoon het.
Nahel, van Algerijnse en Marokkaanse afkoms, het onwettig bestuur, volgens aanklaers.
‘n Polisiebeampte, 38, is van vrywillige manslag aangekla vir die moord en is in aanhouding.