Sokkervroue speel moeilik in mans se stewels

By Razeen Gutta

‘n Opname deur die Europese Klubvereniging het bevind dat meer as 80% van professionele vroulike spelers pyn ervaar wanneer hulle sokkerstewels dra.

Tradisionele sokkerstewels is ontwerp met ‘n manlike voet in gedagte, en daar word verder gevrees dat dit die risiko van kniebeserings by vroue verhoog. Dis waarom meer as 20% van die 350 spelers wat aan die opname deelgeneem het, hul stewels op maat laat maak vir ekstra gemak.

Navorsing is oor ‘n tydperk van 18 maande gedoen, met skandeerders wat gebruik is om ‘n databasis te skep wat groeperings insluit van verskillende voettipes, etnisiteite en spelerposisies.

Dr Katrine Kryger, ‘n kenner in sokkergeneeskunde en sportrehabilitasie by St Mary’s Universiteit, het haar uitgespreek oor die belang daarvan dat vrouestewels van mans s’n onderskei word.

“Daar is drie hoofredes tot kommer. Die eerste is die pas. Sokkerstewels moet regtig styfpassend wees, want jy moet kan beweeg en van rigting verander sonder om binne-in die skoen rond te gly. Maar dit beteken jy dra iets wat vir ‘n man se voet ontwerp is – en ‘n witman se voet, om meer spesifiek te wees,” het sy gesê.

“Aangesien ‘n vroulike voet anders gevorm is, gaan dit knyp en pyn en blase veroorsaak. Ons het marknavorsing oor mans gedoen en weet daar is kwessies wat daarmee verband hou dat sokkerstewels wat sleg pas, probleme kan veroorsaak.

“Een van die dinge wat ons besluit het is dat ons nie net moet na-aap wat die mans doen nie. Ons neem hierdie spesifieke stukkie wetenskap in ag vir vrouesokker.”

Die doel om verandering teweeg te bring het reeds in werking getree. Met die Fifa-wêreldbeker vir vroue wat vinnig naderstaan, het Nike hul eerste stewel vrygestel wat spesiaal vir vroue ontwerp is – en daar word verwag dat ander vervaardigers hul voorbeeld sal volg.

Op die foto hierbo: Nike se nuwe Phantom Luna, ‘n stewel wat vir vroue ontwerp is

Fotobron: @nike