Aussies kry wurggreep op tweede toets

Dinge lyk maar oes vir Engeland nadat hulle Australië op ’n groen baanblad op Lord’s ingestuur het om te kolf op dag een van die tweede toets om Die As. Op 339/5, en met Steve Smith onoorwonne op 85, is die Aussies in beheer.

Daar is darem ’n paar ligpunte vir die tuisspan.

Die eerste is dat die tweede nuwe bal net drie boulbeurte oud is en moontlik deur die lug en van die naat af kan beweeg, en die tweede dat Joe Root as enigste draaibalbouler uiters gevaarlik gelyk en twee paaltjies in een boulbeurt platgetrek het, net toe dit wou lyk asof Australië met die wedstryd gaan weghol.

Engeland se snelaanval, met die uitsondering van James Anderson, het bra middelmatig gelyk op ’n kolfblad wat baie hulp aan hule aangebied het.

Anderson was ongelukkig om nie ’n paaltjie te neem nie. Dit was ’n paar maal so hittete. Die Aussies kon hom amper nie verder as die kolfblad slaan nie, soos sy syfers aandui. Hy het net 29 lopies in sy 15 beurte afgestaan.

Josh Tongue het albei aanvangskolwers pawiljoen toe gestuur, maar sy los boulwerk later in die dag het Travis Head toegelaat om die lopies teen ’n flinke pas op te stapel.

Dan was daar die ekstras. Ollie Robinson het ses foutballe geboul en die kaptein Ben Stokes drie in net drie boulbeurte.

Op 36 kan ekstras maklik die vierde “kolwer” ná David Warner, Smith en Head word wat die vyftig-kerfl oorsteek.

In die foto hierbo: Steve Smith

Fotobron: Twitter