Reën, onwettige bedrading lei tot twee se skokdood

Deur Anita Dangazele

Stormweer en onwettige bedrading was in die naweek waarskynlik te blameer vir die skokdood van twee mans in Gqeberha se Grogro informele vestiging.

Twee liggame is ’n paar uur uitmekaar, tussen Saterdagmiddag en Sondag se vroeë oggendure, doodgeskok nadat hulle vermoedelik in dieselfde plassie op ’n grondpad  na Grogro getrap het.

Nie ver van die toneel af nie was daar ’n spinnerak vervlegde elektriese drade bo die grond uitgesteek, met oop drade wat aan die plassie raak.

Die eerste man, in sy veertigerjare, is Saterdag omstreeks vyfuur in die plas water gevind.

Vyfuur Sondagoggend het bure ’n gil gehoor, uitgegaan en Lukhangele Mboto, 25, in dieselfde plas gevind.

Patrick Ntsila, 43, het gesê die gebied is selfs op droë dae gevaarlik, met drade op die grond én in die lug. “Maar nou, met water oral, is dit veel gvaarliker.”

Mthubanzi Mniki, segspersoon vir Nelson Mandelabaai se munisipaliteit, sê onwettige verbindings word word ’n al groter kommer vir die stad as gevolg van die die gevaar wat dit vir inwoners inhou.

“Die munisipaliteit is diep besorg oor die tempo waarteen onwettige verbindings regoor die stad gemaak word.”

“Die gevaar wat dié verbindings inhou, veral vir kinders, is groot rede tot kommer.”

Mniki het bygevoeg dat die stad stappe doen om elektrisiteit aan informele vestigings te voorsien, maar dat party mense steeds onwettige verbindings verkies.

In die foto hierbo: Onwettige verbindings in die Grogro informele vestiging