Nederland se nommer 8-kolwer, Logan van Beek, het een van sy span se glorierykste seges met ’n verpletterende aanslag in ’n superboulbeurt teen die Wes-Indiese Eilande beklink, toe hy Jason Holder vir drie sesse en drie viere gemoker het.
Die Windies se antwoord hierop: ’n Karige agt lopies.
Van Beek se span het ’n super-beurt afgedwing toe hulle die Windies se formidabele 374 ingehaal het, danky ’n blitsige honderdtal deur Teja Nidamanuru, maar nie kon verbysteek nie.
Dit is die grootste gelykoptelling in die geskiedenis van eendagkrieket.
Van Beek se heldedaad het só verloop:
· Bal 1: Hy help ’n los volbal na die diep-middebaan grens toe.
· Bal 2: Nog ’n volbal buite die wegpen, en dié keer slaan hy hom ver oor die diepby grens.
· Bal 3: Holder probeer hom met ’n kortbal flous, maar hy wip op sy tone trek die bal bykant toe vir vier.
· Bal 4: Te vol aan die wegkant, hy kry sy voorvoet uit die pad en klits die bal oor die wye diepby grens.
· Bal 5: Nog ses! Hierdie een heeltemal uit die veld, tot in die bome anderkant diep middebaan. Holder is die kluts kwyt.
· Bal 6: ’n Stadige wipbal buite die wegpen. Van Beek se voete lig van die grond en hy trek hom verby die veldwerker op diep middebaan.
Albei spanne was al voor die wedstryd deur na die Super Ses-ronde, saam met Sri Lanka, Skotland, Zimbabwe en Oman. Ierland, die Verenigde Arabiese Emirate, Nepal en die VSA gaan huis toe.
Saamgestel deur eie beriggewer
In die foto hierbo: Logan van Beek