Hollywood se sokkerbase speel nou met resieskarre

Hollywood-akteurs Ryan Reynolds en Rob McElhenney, eienaars van Wrexham Football Club, is deel van ‘n beleggersgroep wat ‘n 24%-belang in die Formule 1-span Alpine verkry het.

Die beleggingsgroep, wat ook Otro Capital en RedBird Capital Partners insluit, waardeer Alpine se moedermaatskappy, Alpine Racing, teen ongeveer £706 miljoen.

Alpine is gesetel in Brittanje, en is hierdie seisoen vyfde in die F1-konstrukteurskampioenskap.

Die betrokkenheid van Reynolds en McElhenney by Alpine kom ná hul suksesvolle oorname van Wrexham FC in 2021, wat gelei het tot die span se bevordering na die Football League ná ‘n afwesigheid van 15 jaar.

Die Amerikaanse beleggingsfirma RedBird Capital Partners het aansienlike belange in verskeie sportentiteite, insluitend Fenway Sports Group, wat Liverpool Sokkerklub en die Boston Red Sox-bofbalspan besit.

RedBird het ook die Italiaanse Serie A-klub AC Milan in ‘n €1.2 miljard-transaksie in 2022 verkry en het ‘n beherende belang in die Franse Ligue 1-span Toulouse.

Alpine se uitvoerende hoof, Laurent Rossi, sien hierdie belegging as ‘n manier om die span se prestasie op alle vlakke te verbeter en sy mediaprofiel ‘n hupstoot te gee.

Die verhoogde media-teenwoordigheid sal na verwagting bydra tot Alpine se langtermyn-sukses in Formule 1.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Ryan Reynolds en Rob McElhenney