Het Handré Pollard se ster verskiet?

Manie Libbok en Damian Willemse is albei vir sterstatus in die nommer 10-trui bestem. Maar hulle is nog nie daar nie, en dis ’n ope vraag of Handré Pollard, ’n ster in die Springbokke se Wêreldbeker-wenspan in 2019, sy ou vonkel gaan terugkry ná ’n reeks beserings.

Losskakels wen en verloor wedstryde vir hulle spanne. Hulle is die besluitnemers wat sake dikteer en 80 minute lank die regte besluite moet neem en uitvoer.

Ons hoef net na die losskakels in die Noordelike Halfrond se topspanne te kyk om te weet die Springbokke het ’n agterstand wat hulle baie gou moet uitwis.

Pollard op sy beste kan saampraat met Johnny Sexton (Ierland) Romain Ntamack (Frankryk) en Owen Farrell (Engeland), maar hy sukkel al meer as ’n maand lank met ’n beenbesering.

Dis onmoontlik om te sê of hy betyds op sy beste gaan wees vir die Wêreldbekertoernooi, wat op 8 September in Frankryk afskop. 

Maar die grootste kwelling is die Bok-afrigter se keuse as tussentydse oplossing: Elton Jantjies.

Hy is erg wisselvallig en ’n skadu van die eertydse wedstrydwenner, toe hy vrees by die span se teenstanders ingeboesem het. Deesdae is dit net Bok-ondersteurs wat vrees dat hy die finale Wêreldbeker-groep gaan haal.

(Eddie Jones sit toevallig met ‘n soortgelyke probleem in die vorm van Jantjies se Wallaby-eweknie, Quade Cooper, wat onder die bestes tel wanneer hy die dag goed speel, maar ewe gereeld misluk.) 

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se eienaardige keuses is in die verlede al genoeg kere reg bewys dat mens hulle die voordeel van die twyfel moet gee, maar Rassie se lojaliteit teenoor Jantjies voer sake dalk ’n stappie te ver.

In die foto hierbo: Manie Libbok en Damian Willemse