Zille beskuldig dat sy ‘boekhou oor swart DA-leiers’

Deur Anita Dangazele

Nqaba Bhanga, voormalige Oos-Kaapse leier van die DA, het twee dae om sy openbare uitbarsting te verduidelik waarin hy Hellen Zille, die party se federale voorsitter, bestempel as “die mees rassistiese persoon” wat hy ken.

Bhanga het hom Saterdagmiddag na sosiale media gewend om sy frustrasie met Zille uit te spreek, en haar daarvan beskuldig dat sy “lêers hou oor swart mense”.

“Helen Zille is die mees rassistiese mens. Sy hou boek van alle swart mense. Gister het ek uitgevind hoe sy inligting verkry het om die ANC te probeer vernietig. Dis pynlik om te weet dat sy saam met die ANC teen my werk.”

Bhanga beweer Zille was besig om hom en ander swart lede te ondersoek en sê hy voel verraai en seergemaak dat sy eie party hom na bewering agter sy rug sou ondersoek.

Hy het gesê hy het Vrydagaand uitgevind dat Zille in Gqeberha was om uit te vind hoe ‘n oud-munisipale beampte ‘n huis ter waarde van R6 miljoen vir hom gekoop het. “Ek het ‘n baie groot huis in Walmer, amper soos Nkandla, en wit mense is jaloers dat ek, ‘n swart man, so ‘n yslike huis het – dis hoekom ek ondersoek word.

“Die vlak van haar rassisme en jaloesie gaan my te bowe,” het Bhanga beweer. Hy het bygevoeg dat hy ná sy uitbarsting bewus is dat die toekoms van die party wankelrig is.

“Hulle sal my uitstoot, daardie plasing was nie per ongeluk nie.”

Die DA se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Sondag ‘n vergadering gehou waar daar eenparig besluit is om vir Bhanga ‘n kennisgewing te stuur van die voorneme om hom van alle party-aktiwiteite te skors.

Provinsiale DA leier Andrew Whitfield het gesê Bhanga is geskors hangende die uitslag van ‘n ondersoek na bewerings om die party in oneer te bring, onder meer oortredings van die DA se gedragstandaard vir sy lede.

“Die voorneme om Nqaba Bhanga te skors volg nadat hy ‘n ander DA-lid (Helen Zille) in die openbaar as ‘rassis’ bestempel het en ongegronde bewerings teen haar op sosiale media geplaas het,” het hy gesê.

Die PUK het die saak na die party se federale regskommissie verwys vir ondersoek.

“Die DA in die Oos-Kaap is diep teleurgesteld in Bhanga se optrede, wat strydig is met sy vorige verbintenis tot nie-rassigheid en tot die party.”

Op die foto hierbo: Nqaba Bhanga, voormalige DA-provinsiale leier

Fotobron: Facebook