Jong Bokkies so-so in sege teen Georgië

Deur Lucky Maree

➤ Enigeen wat gedink het die Suid-Afrikaanse Onder-20 rugbyspan gaan Georgië platvee in die Wêreldkampioenskapstoernooi, moet erg teleurgesteld wees. Ná die senter Katlego Letebele se drie vroeg in die wedstryd was dit afdraand, met die een losgemaal na die ander.

Georgië is allermins maklike teenstanders, en die speeloppervlak was sag na al die reën in Stellenbosch, maar mens sou tog ’n bietjie meer woema van die jong SA span wou sien. Hulle sege met 10 punte laat mens koud.

➤ Argentinië was klinies in ’n maklike sege teen Italië. Die feit dat hulle 43 punte aangeteken het, sê minder as die 15 wat hulle afgestaan het. Dalk is hulle verdediging verdag.

➤ Wallis, wat hulle vyf vorige wedstryde verloor het, het die mini All Blacks kwaai laat skrik, en uiteindelik met ’n enkele punt verloor nadat hulle 19-5 voor was. 

➤ Die beste wedstryd was die gelykopuitslag tussen Engeland en Ierland. Nie een van die twee spanne het in hulle dop gekruip en veilig gespeel nie. Anders as die jong Bokkies het hulle aangeval by elke geleentheid.

➤ Fidji teen Australië was ’n fees om te aanskou. Fidji het ’n ruk lank gelyk asof hulle kan verras, maar die die junior Wallabies se twee drieë teen die einde het hulle van ’n bonuspunt beroof.

Die Japannese skeidsregter Takehito Namekawa het helaas twee geel kaarte en ’n rooi kaart uitgedeel. Ons gaan baie van hulle in dié toernooi sien.

➤ Frankryk het Japan geheel en al oordonder. Hou hulle dop. Dit was goed om te sien hoe Japan darem twee drieë kon druk.

Afdeling A

Frankryk 75-12 Japan

Wallis 26-27 Nieu-Seeland 

Afdeling B

Engeland 34-34 Ierland

Australië 46-37 Fidji

Afdeling C

Argentinië 43-15 Italië

Suid-Afrika 33-23 Georgië

In die foto hierbo: Die jong Bokke wurg ’n oorwinning uit teen die rateltaaie Georgië

Fotobron: Twitter