Trevor vind ’n nuwe ‘verhoog’

Trevor Noah sal later vanjaar ‘n weeklikse potgooi op Spotify loods.

Die uitsending, wat nog ‘n naam moet kry, sal Noah se unieke komiese styl en globale perspektief ten toon stel wanneer hy die dag se boeiendste sake bespreek.

Hy sal ook in-diepte onderhoude voer met invloedryke mense van regoor die wêreld.

Alhoewel dit ‘n oorspronklike Spotify program is, sal die potgooi op verskeie platforms beskikbaar wees, anders as sommige van Spotify se eksklusiewe transaksies met ander gewilde gashere.

Noah, eertydse gasheer van The Daily Show, het sy opgewondenheid uitgespreek oor die geleentheid om inhoud van ‘n lywiger aard te verken en aan betekenisvolle gesprekke deel te neem sonder die beperkings van televisie.

Hy glo dat die potgooi formaat hom sal toelaat om omvattend met onderwerpe te handel, sonder om beperk te word deur tydraamwerke wat deur advertensies bepaal word.

Hy is veral in sy noppies oor die vryheid om episodes op te neem van enige plek in die wêreld af, en beskou die potgooi as ‘n platform vir interessante besprekings en probleemoplossing met ‘n skeut humor.

Spotify se ooreenkoms met Noah weerspieël hul deurlopende strategie om prominente talent na hul potgooi-reekse te lok.

Terwyl sommige van hul vorige eksklusiewe potgooi-aanbiedings tot ‘n einde gekom het, beskou Spotify Noah as ‘n ideale pasmaat vir hul toekomsplanne.

Noah se podcast is aangekondig tydens ‘n gesprek met Spotify se uitvoerende hoof, Daniel Ek, by die Cannes Lions-konferensie, waar die gebruik van nuwe tegnologie en mediums om met gehore te skakel bespreek is.

Na sewe jaar op The Daily Show het Noah die program laat in 2022 verlaat.

Hy het die afgelope drie jaar die Grammy-toekennings aangebied, en sy boek Born a Crime: Stories From a South African Childhood is ‘n topverkoper.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Trevor Noah

Fotobron: Twitter