Paryse polisie teiken Olimpiese hoofkwartier in korrupsieklopjag

Deur Razeen Gutta

Die Franse polisie het Dinsdag toegeslaan op Parys se Olimpiese organiseringshoofkantoor as deel van ‘n ondersoek na korrupsie.

Die nasionale finansiële aanklaer se kantoor het gesê dat die Parys 2024-hoofkwartier geteiken is as gevolg van kontrakte opgetrek deur die Somerspele se reëlingskomitee.

Die ondersoek het in 2017 begin en fokus op beweerde verduistering van openbare fondse en begunstiging, volgens die aanklaers.

Die Franse koerant L’Equipe het berig dat Solideo, die maatskappy verantwoordelik vir Parys 2024-bouwerke, ook geteiken is.

“Parys 2024 werk aktief saam met ondersoekers om hul navrae te vergemaklik en so vinnig as moontlik antwoorde te verskaf,” het die reëlingskomitee in ‘n verklaring gesê.

“Om die deursigtigheid en behoorlikheid van die etlike honderde kontrakte wat toegeken is te verseker, het Paris 2024 streng maatreëls ingestel, en het beide ‘n etiekkomitee en ouditkomitee gestig om toesig te hou oor aktiwiteite.

“Parys 2024 is ook sekerlik een van die mees geouditeerde organisasies in Frankryk. Nie die Franse Anti-Korrupsie-agentskap se oudit of vyf ondersoeke deur die Oudithof het enigeiets opgelewer nie, benewens die voortgesette monitering van ons bestuurstrukture.

“Gedurende hierdie oudits en deurlopende monitering het Paris 2024 die doeltreffendheid bewys van die streng prosedures waarmee voortgegaan is in samewerking met ouditerings- en regulatoriese oranisasies.”

Die Olimpiese Spele in Parys 2024 word van 26 Julie tot 11 Augustus aangebied, en die Paralimpiese Spele vind plaas van 28 Augustus tot 6 September.

Op die foto hierbo: Parys Olimpiese Spele

Fotobron: @LpaulKang