Tyd raak min in soektog na vermiste onderwatertuig

Reddingspanne is in ’n wedloop teen tyd gewikkel in hulle soektog na ’n vermiste onderwatertuig naby die wrak van die Titanic in die Atlantiese Oseaan.

Die tuig, met die naam Titan, het Sondag vermis geraak, met die Britse miljardêr Hamish Harding en vier ander aan boord.

Die Titan het ’n noodsuurstofreserwe van 96 uur, waarvan daar nou minder as twee dae s’n oorbly.

Die groot reddingsoperasie, gelei deur die Amerikaanse Kuswag, vind 1 448km oos van Cape Cod plaas. Dié afstand bemoeilik die soektog.

Onder-Admiraal John W Mauger het gesê ’n C-130 vliegtuigbemanning voer ’n lugsoektog uit, wat uit visuele en radartegnieke bestaan.

Verder span die Kanadese Kuswag en die Kanadese Gewapende Magte twee vliegtuie, ’n C-130 en ’n P-8, en sonarboeie in om met die soektog te help.

Die Titan het Sondagoggend kontak met die navorsingstuig Polar Prince verloor, omtrent ’n uur en 45 nadat die sending begin het.

Die ander drie mans in die vaartuig is die Franse stuurman Paul-Henry Nargeolet; Stockton Rush, hoof en stigter van OceanGate Expeditions, en die Pakistanse sakeman Shahzada Dawood en sy seun Suleman, soos deur hulle familie bevestig.

Die Titan is ontwerp om veilig tot op 4 km te kan duik, en dit sal ongeveer twee ure kos om tot by die Titanic se wrak uit te kom, sowat 3.8km onder die oppervlak.

Vanweë die diepte van die water vereis ’n reddingspoging gespesialiseerde vaartuie wat nie altyd beskikbaar is nie.

Die hoop is dat die vaartuig reeds op die oppervlak dryf en wag om deur vliegtuie gevind te word.

Die wrak van die Titanic, wat op haar eerste tog in 1912 gesink het, is 37 jaar gelede ontdek, omtrent 400 seemyl van Newfoundland in Kanada. 

OceanGate Expeditions bied agt-dae-lange ekspedisies na die wrak aan teen ’n koste van $250 000 (R4.5 miljoen). 

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Die vermiste tuig