Engeland betaal duur vir Stokes se oepsies 

Deur Dezzi Lennox

Mens sou kon raai twee glipse gaan Engeland se krieketkaptein en superster, Ben Stokes, in die volgende paar dae uit die slaap hou, nadat sy span ’n onvergeetlike toetswedstryd teen Australië met twee paaltjies verloor het.

Die eerste was sy besluit om laat op dag een sy kolwers van die veld af te roep met net agt paaltjies plat, sodat sy boulers in die vroeë skemer vinnig van een of meer Aussie-kolwer ontslae kan raak.

Dit het geboemerang. Nie net het Australië se aanvangskolwers oorleef tot die volgende dag nie, een van hulle, Usman Khawaja, het voortgegaan en 141 lopies opgestapel.

Stokes se tweede glips was toe hy Nathan Lyon misgevang het terwyl Australië nog 40 lopies van ’n oorwinning weg was.

Wat die besluit om te verklaar op dag een nog meer verstommend gemaak het, was dat Engeland se beste kolwer, Joe Root, nog daar was op 118, en die vaardigheid het om stertkantkolwers van die gevaarkant weg te hou.

Soos hulle gewoonte is onder die leierskap van Stokes en die afrigter, Brendon McCullum, het Engeland “Bazball” gespeel en hulle 393 lopies teen ’n verstommende 5.2 lopies per beurt aangeteken. 

Dit sou laf wees om al die skuld op Stokes te pak. Daar gebeur baie in vyf dae op ’n krieketveld wat ’n invloed op die uitslag het. En wanneer die spanne mekaar volgende week op Lord’s pak, gaan hy beslis nie minder waagmoedig wees nie.

In die foto hierbo: Aussie-kaptein Pat Cummins 

Fotobron: Twitter