In Pole het die kusoord Hel opslae gemaak met hulle berugte Bus 666, vernoem na die “merk van die dier” in die Bybelboek Openbaring.
Maar moenie vrees nie, godsdiensgroepe kon nie grap insien nie en het protes aangeteken. Die vervoerdiens het die roetenommer na 669 verander om die ewige verdoemenis vry te spring.
Hel is op ’n wonderskone peninsula geleë wat oor 35km strek en eerder aan die paradys as die vuurkolk van die Bybel herinner, tensy laasgenoemde verafgeleë strande en betowerende bospaadjies bevat waarvan ons nie weet nie.
Die vervoeroperateur, PKS Gdynia, was moeg vir die aanhoudende klagtes en briewe van Christengroepe en het gesê, wel, te hel met 666.
’n Segspersoon vir die maatskappy, Marcin Szwaczyk, het erken die direksie het geswig onder die geween en gekners van die tande wat die getal uitgelok het, berig Sky News.
Die Katolieke publikasie Fronda het die gebruik van die getal 666 as “Satanistiese onnoselheid” uitgekryt. Die Hel is g’n grap nie, het hulle beweer.
Szwaczyk het geskimp dat hulle die saak dalk sal heroorweeg as genoeg mense daarop aandring dat die ikoniese 666 teruggebring word. Die Hemel help ons.
Saamgestel deur eie beriggewer
In die foto hierbo: Die bus hel toe