Daar laat val All Black-bestuur die Wêreldbeker

Deur Lucky Maree

Rugbygeesdriftiges wat laas naweek deur die vier ure van die twee Curriebeker-halfeindstryde geworstel het, sou kon dink dis darem ’n dekselse lang tyd vir vier spanne om oor die veld te ploeter en ’n langwerpige bal heen en weer te skop.

Daarteenoor was was die Crusaders teen die Blues in ’n Nieu-Seelandse uitspeelwedstryd in ’n oogwink verby. Vyf van die Crusaders se ses briljante drieë is deur agterspelers gedruk; wenrugby, so goed soos enigiets wat ons voor die Wêreldbeker gaan sien.

Soos soveel keer vanjaar het die Crusaders se afrigter, Scott Robertson, hom as een van die bestes in die wêreld bewys. En hy maak nie deel van die All Blacks se afrigtingspan uit nie.

Die hoofafrigter, Ian Foster, kan ten beste as ’n toegewyde werker beskryf word. Logika was met verlof toe Nieu-Seeland se rugbybase hom afgedank, Robertson aangestel, en Foster gedwing het om sy kontrak tot ná die Wêreldbeker na te kom.

Die Nieu-Seelandse spanaankondiging in die naweek het geen indruk op die span se ondersteuners gemaak nie.

Swak leiers omring hulleself met swak werkers. Die All Blacks is allermins ’n swak span, maar die towerkrag van ouds ontbreek onder Foster se leierskap.

Die voorste aanspraakmakers op die Wêreldbeker het briljante afrigters. Ierland (Andy Farrell) en Frankryk (Fabien Galthié) moet as gunstelinge beskou word, met Suid-Afrika, onder Rassie Erasmus and Jacques Nienaber, net ’n kortkop agter.

Die All Blacks lyk nie soos ’n span wat die Wêreldbeker kan wen nie. Scott Robertson kon hulle op ’n segetog gelei het. Ian Foster kan nie. Hy was ’n glips. Om Scott “Razor” Robertson uit te sny, was dalk ’n dodelike flater.

In die foto hierbo: Scott Robertson

Fotobron: Twitter