Max se ‘passasier’ hoort eintlik op F1 podium

Amptelik het Max Verstappen Sondag die Kanadese Grand Prix in Montreal gewen, maar eintlik was hy tweede oor die wenstreep, ’n kortkop agter ’n ongenooide passasier.

Verstappen het tydens die 11de ronde van die wedren sy span laat weet sy kar het ’n voël getref, maar dit het geen invloed op sy baansnelheid gehad nie. Hy het voortgejaag en was vir die derde keer op ’n streep heelpad aan die voorpunt.

Hy is ’n volle 10 sekondes voor Fernando Alonso en Lewis Hamilton oor die wenstreep, en het aan Sky Sports F1gesê die voël is eers na die wedloop verwyder.

“Hy het nie baie goed gelyk nie,” aldus Verstappen, wat maklik kan praat, aangesien dit nie hy was wat 59 rondes lank in die kar se regterkantste remkanaal vasgesit het hy.

Vir die werktuigkundige wat die voël moes verwyder, het die F1 kampioen meer simpatie gehad, aangesien dit sekerlik nie die glansrykste taak van sy loopbaan was nie.

Verstappen het sy voorsprong oor sy spanmaat en naaste teenstander, Sergio Perez, tot ’n allemintige 69 punte gerek.

Red Bull het 18 van die laaste 19 wedrenne gewen, wat elkeen in die huidige seisoen insluit.

Die span het nie gesê of hulle iets oor aërodinamika by die ongenooide passasier – ’n kundige op die gebied – geleer het nie.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Max Verstappen lyk reg om op te styg

Fotobron: Red Bull