Deur Everson Luhanga
Die videogrepe wat die CCTV kameras by die Ekurhuleni winkelsentrum opgeneem het, lyk soos ’n rooftog uit ’n aksiefliek, waarin omtrent agt verdagtes ’n juwelierswinkel geplunder het.
Kassiere is met vuurwapens aangehou en werknemers en klante is erg getroumatiseer.
Terwyl die bende Sondag om 11:50 met hulle buit op pad na die uitgang was, het ’n skietgeveg met sekuriteitswagte uitgebreek. Laasgenoemde het die polisie ontbied.
Die polisie en wagte het die motors waarin die verdagtes was agternagesit in die rigting van Alexandra, in die noorde van Johannesburg.
Die polisie het een van die verdagtes in Alexandra se Stjwetla informele woonbeurt naby Marlboro vasgetrek.
Hy het die polisie na nog ’n verdagte gelei, en ook na ’n ander deel van die township. Drie wegkomkarre – wat ’n Audi wat vermoedelik in Limpopo gekaap is en ’n Golf 7 insluit – ’n AK47- en ’n R5-aanvalsgeweer, ’n pistool, ammunisie en plofstof is ook by die verdagtes gevind.
Die bende is vermoedelik ook by OTM-ontploffings en aanvalle op kontantvoertuie betrokke. Die polisie het op bevlekte geld beslag gelê. Die oorblywende bendelede en die gesteelde juweliersware is nog nie gevind nie.
Die boewe wat gevang is, sal in die hof verskyn op aanklagte van onder meer sakeroof, die besit van onwettige vuurwapens en die besit van vermoedelik gekaapte voertuie.