Deur Anita Dangazele
Terwyl opruimoperasies in die Wes-Kaap voortduur ná vyf dae van swaar reënbuie regoor die provinsie, staan die dodetal nou op twee.
Die provinsie word sedert Dinsdag deur swaar reën geteister, wat duisende mense dakloos gelaat het.
Polisiewoordvoerder Adjudant-offisier Joseph Swartbooi sê ‘n onbekende lyk is Saterdagoggend ontdek in die Buffelsjagsrivier in die Overberg.
“Ons kan bevestig dat die SAPD-duikers die lyk vanoggend (Saterdag) opgespoor en na veiligheid gebring het.
“Mediese personeel het die onbekende slagoffer is op die toneel dood verklaar,” het Swartbooi gesê.
Die tweede slagoffer is ‘n 64-jarige man wat volgens die provinsie se Rampbestuur in sy huis dood is weens vloede.
Volgens News24 het ‘n dam langs die Philippi-treinstasie ook oorgeloop, wat gedreig het om oorstromings te veroorsaak in die Down Town informele nedersetting, wat stroomaf geleë is.
Die Paaie- en Stormwaterdepartement het gehelp om die water te herlei, en maatreëls is ingestel om die vloedrisiko by ‘n Eskom-substasie in Somerset-Wes te verminder.
Pad- en Infrastruktuurbestuursdienste het alle vanggate weer skoongemaak om kapasiteit te skep in die geval van meer reën.
Talle bome is oor die stad heen ontwortel terwyl weerverwante kragonderbrekings in sommige gebiede ondervind word.
Weens beskadigde paaie en infrastruktuur moes Wes-Kaapse Rampbestuur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) versoek om per helikopter humanitêre hulp te lewer aan Citrusdal, wat swaar getref is deur vloedwater.
Sterk winde en voortgesette swaar reënbuie het egter verhoed dat die helikopters kon opstyg.
Teen laatmiddag het die humanitêre organisasie Gift of the Givers daarin geslaag om twee van hul massiewe vragmotors na Citrusdal en Vredendal te stuur om die gebeid se vloedslagoffers te help.
“Die mense hier het reeds dae lank geen behoorlike ondersteuning of kos gehad nie. Hulle het dringend hulp benodig, en daarom moes ons alle voorsorgmaatreëls tref om bystand aan die mense te verleën,” aldus Gift of the Givers woordvoerder, Ali Sablay.
Op die foto hierbo: Gift of the Givers oorhandig humanitêre voorrade aan vloedslagoffers in Citrusdal
Fotobron: Facebook/Gift of the Givers