David Baerten, ’n ondeunde Belgiese skepper van TikTok-video’s onder die naam Ragnar le Fou wou weet hoeveel sy vriende en familie vir hom omgee, en reël toe sy eie begrafnis!
Baerten het een van sy kinders gevra om die nuus van sy “dood” te versprei in ’n hartverskeurende huldeblyk op sosiale media.
Niksvermoedende vriende en familie was in ongeloof en skok, en het hulle geliefde David se dood betreur.
Terwyl roubeklaers, in swart geklee, wag dat die seremonie begin, het ’n helikopter uit die bloute verskyn en neergestryk – en daar klim die afgestorwene uit!
Die TikTok-video wat die oomblik vasgevang het, het teenstrydige emosies by die teenwoordiges gelok.
Sommiges het trane van blydskap gestort en hom omhels. Ander het versteen gestaan en gesukkel om die situasie te lees, berig Sky News.
Baerten het na die tyd gesê hy het gevoel sy mense waardeer hom weer. Daar was voorheen geleenthede waar hy uitgesluit gevoel het.
Of dit eties was is ’n goeie vraag, maar hy sê hy het sy doel bereik. Sy familielede wat hom afgeskeep het, het die bande tussen hulle herstel.
Dit wil lyk asof Baerten op sy onkonvensionele manier die kaf van die koring geskei het – al was daar sekerlik mense wat gedink het hy het te ver gegaan.
Saamgestel deur eie beriggewerz
In die foto hierbo: Die poets