Deur Zukile Majova
Nadat die eerste poging om die Gupta-broers aan Suid-Afrika uit te lewer misluk het, het die regering planne aangekondig om weer aansoek te doen vir uitlewering van die berugte familie.
Hoofregter Raymond Zondo, wat die voorsitter van die staatskapingskommissie was, het gesê die Guptas en hul verwante maatskappye het byna R73 miljard van staatsvondse afgesyfer.
Die eerste poging om die Gupta-broers uit te lewer op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery het misluk weens uitstaande dokumente in die Suid-Afrikaanse regering se aansoek.
Ronald Lamola, Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, het gesê die Suid-Afrikaanse diplomate is nie deur die howe van die Verenigde Arabiese Emirate ingelig oor die relevante datums vir die uitleweringsverhoor nie.
“Geen Suid-Afrikaanse diplomaat of enigiemand was bewus van dat die hof gesit het nie, want anders as ons howe is dit nie ‘n oop hofstelsel nie.”
Tydens ‘n parlementêre debat oor die aangeleentheid het die minister bewerings verwerp dat die Nasionale Vervolgingsgesag die papierwerk in die uitleweringsversoek verbrou het.
Die EFF het gesê honderde amptenare en politici wat deur die staatskapingskommissie by korrupsie betrek word, is steeds nie vervolg nie.
“Die NVG self is totaal onbevoeg en word gelei deur ‘n baie onbekwame persoon in die vorm van Shamila Batohi. Hulle het nog nie ‘n enkele persoon uit die sogenaamde staatskapingssirkus wat deur Raymond Zondo bestuur word, vervolg nie,” aldus die party.
DA-LP Glynnis Breytenbach het gesê die party eis ‘n robuuste wetlike raamwerk om die Guptas in Suid-Afrika agter tralies te kry.
Die Gupta-broers het etlike jare lank onbehoorlike invloed uitgeoefen op sleutelregeringsbesluite en was die middelpunt van korrupsiebewerings en -ondersoeke in Suid-Afrika,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: Die berugte Gupta broers wat Suid-Afrika leegemelk het
Fotobron: Twitter