Inwoners gestrand na swaar reën

Deur Buziwe Nocuze

Inwoners van Kaapstad lê al nagte lank wakker en probeer desperaat om water uit hul huise te skep terwyl hulle die meedoënlose reën beveg wat sedert Maandag op die skiereiland neerval.

Die swaar reën het hele gemeenskappe gestrand gelaat, met erge oorstromings wat sommige mense in hul huise vasgekeer het.

Nolufefe Qokombana van Lower Crossroads kon nie werk toe gaan nie aangesien haar erf oorstroom is deur water uit ‘n nabygeleë kanaal.

Sy is gefrustreerd en bekommerd, en sê: “Niemand verdien om so te lewe nie. Ek kon nie werk toe gaan nie, want die water was oral. Ons gaan siek word, want ons is die hele nag wakker om van die water ontslae te raak.”

Zukhanye Mayaba van Siqala informele nedersetting is gedwing om haar oorstroomde huis te verlaat.

“Om van die water ontslae te raak terwyl dit nog reën is tydmors, en ek sit met ‘n siek kind. Ek kon nie daar bly nie,” het sy gesê. Sy het skuiling by familie in ‘n ander buurt gaan soek.

Benewens hul onmiddellike uitdagings, is inwoners soos Mabaya ook bekommerd oor hul besittings.

“Misdadigers gebruik elke kans wat hulle kry om te steel. Hulle is op die uitkyk vir mense wat hul huise verlaat sodat hulle hul besittings kan steel.”

‘n Anonieme inwoner van Gugulethu het frustrasie uitgespreek en die feit benadruk dat die probleem nooit opgelos word nie.

“Ek weet nie hoekom ons leiers nie ‘n blywende oplossing vir hierdie probleem vind nie. Ons kla jaar na jaar oor dieselfde ding, maar ons leiers gee nie om nie,” het sy gesê.

Luvuyo Petsana het gesê hulle is moeg vir leiers wat hul gebiede besoek vir fotogeleenthede.

“Dit is skandelik dat hulle hierheen kom om foto’s te neem om op sosiale media te plaas, en te maak asof hulle ons help. Hulle het ons nog nooit ernstig opgeneem nie. Ek is woedend,” het Petsana gesê.

Charlotte Powel, die Stad Kaapstad se woordvoerder van Ramprisikobestuur, het gesê hul departement, saam met ander, doen assesserings om die omvang van die weerverwante impakte te bepaal en om enige hulp wat deur geaffekteerde gemeenskappe benodig word, te identifiseer.

“Wat informele nedersettings betref, sal spanne assesserings uitvoer in hoërisikogebiede en met Sassa en ander NRO-vennote saamwerk om die nodige ondersteuning te verskaf waar nodig.”

Inwoners word aangeraai om die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum te kontak wanneer daar noodgevalle ondervind word.

Op die foto hierbo: Swaar reën het baie inwoners van Kaapstad wakker gehou terwyl hulle probeer om water uit hul oorstroomde huise te kry

Fotobron: Verskaf