Sweedse sokkervroue moes skaamdele wys

Nilla Fischer, ’n Sweedse nasionale vroue-sokkerspeler, sê die span is in 2011 tydens die Wêreldbeker aan ’n vernederende ondersoek onderwerp om hulle gender te bevestig.

Die ondersoek is uitgevoer nadat Nigerië, Suid-Afrika en Ghana hulle kommer uitgespreek het oor bewerings dat daar mans in Ekwatoriaal-Guinee se span was.

In haar boek met die naam I Didn’t Even Say Half Of It beskryf Fischer die proses as afbrekend.

’n Vroulike fisioterapeut het die ondersoek namens die dokter, ’n man, behartig. Spelers is aangesê om nie in die voorafgaande dae daar te skeer nie.

“Ons is gewaarsku dat ons ons skaamdele sou moes wys,” het Fischer gesê.

Die ervaring het die spelers naar ek vernederd laat voel, maar hulle het ingestem omdat hulle nie die kans om aan die Wêreldbeker deel te neem in die wiele wou ry nie.

Fischer het die proses in nadere besonderhede beskryf. Sy sê sy het haar oefenbroek en onderklere vinnig afgetrek en die fisio het haar kop in erkenning geknik. 

Die dokter, met sy rug op hulle gekeer, het notas geneem en na die volgende speler aanbeweeg. Nadat elke spanlid die toets ondergaan het, kon die dokter bevestig dat almal vroue is, berig The Guardian

Dit is ’n raaisel waarom fisiese ondersoeke eerder as DNA toetse gedoen is. Fifa het twee weke voor die toernooi ’n gender-erkenningbeleid vrygestel.

Dit het van spanne vereis om ’n verklaring te onderteken dat die spelers almal vroue is.

Fifa het vandeesweek in ’n verklaring gesê die federasie neem kennis van Fischer se kommentaar.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Nilla Fischer

Fotobron: Twitter