Deur Zukile Majova
Die druk op President Cyril Ramaphosa laai om twee mikpunte vir sy vredesbesoek aan Rusland en Oekraïne te stel.
In die eerste plek moet hy ’n skietstilstandooreenkoms tussen Wladimir Poetin en Wolodimir Zelenski bewerkstellig. Dan moet hy die skade aan Suid-Afrika se buitelandse beleid in die oë van die wêreld herstel wat sy aanhang aan Poetin aangebring het.
Poetin is deur die Internasionale Strafhof as oorlogmisdadiger verklaar.
Ramaphosa en staatshoofde uit Zambië, Senegal, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Oeganda en Egipte reis dié week na Kiev en Moskou in ’n poging om ’n vreedsame einde aan die konflik te beding.
Die afvaardiging hoop om ten minste vir ’n skietstilstand te onderhandel, wat tot vredesamesprkings kan lei.
Die ANC-regering se uitspraak dat die land onverbonde bly het ’n knou weg ná onlangse bewerings dat die land wapens aan Rusland verkoop.
Dié week het ’n groep Amerikaanse wetmakers President Joe Biden versoek om vanjaar se VSA-Afrika beraad van Suid-Afrika weg te neem, vanweë die land se “verdiepende militêre verhouding” met Rusland.
Suid-Afrika kan meer as $32 miljard verloor as die land uit die African Growth and Opportunity Act (Agoa) geskop word oor Russiese bande.
Clayson Monyela, segspersoon vir Internasionale Verhoudings, het gesê die SA regering het steeds Amerika se steun en sal die Agoa-Forum in Novenber aanbied.
“President Cyril Ramaphosa se spesiale gesante het die VSA onlangs besoek om Suid-Afrika se onverbonde status aangaande die oorlog aan belanghebbendes te verduidelik
“Ons diplomate in Washington sit die gesprekke voort. President Cyril Ramaphosa lei die vredesending na Rusland en Oekraïne,” het Monyela gesê.
In die foto hierbo: Presidente Ramaphosa en Putin in vrolike luim
Fotobron: GCIS