Klop klop. Wie’s daar? Jou dooie ma

’n Vrou in Ecuador het bewys dat die lewe vol verrassings kan wees – selfs na die dood.

Tydens haar eie nagwaak het die 76-jarige Bella Montoya, wat by ’n hospitaal dood verklaar is, haar roubeklaers oor ’n mik laat skrik deur aan haar kis se deksel te klop.

Die insident het gelei to ’n regeringsondersoek na die hospitaal waar die foutjie ingesluip het.

Montoya is in die hospitaal opgeneem na ’n moontlike beroerte en kardiopulmonêre stilstand. Dokters se pogings om hart aan te wakker het oënskynlik misluk.

Haar seun, Gilberto Barbera, het verduidelik dat sy ma in ’n koma by die hospitaal aangekom het. ’n Paar ure later het ’n dokter die skoknuus van haar dood aan hom oorgedra en ’n doodsertifikaat uitgereik.

Nadat die familie die geklop gehoor het, het hulle haar uit die kis bevry en met haar hospitaal toe gejaag.

Sy is steeds in ’n kritieke toestand in intensiewe sorg. Dokters is nie optimisties oor haar prognose nie.

Saamgestel deur eie beriggewer