Deur Razeen Gutta
Mike Lukhubene, die voormalige afrigter van Chippa United en Royal AM, is Sondag by die Cokebeker-toernooi in Khayelitsha, Kaapstad, doodgeskiet.
Die voorval het na wat verneem word om ongeveer 6nm plaasgevind, voor die oë van spelers en toeskouers.
Besonderhede is vaag, maar daar is uit verskeie bronne berig dat Lukhubene en ’n ander afrigter om die lewe gebring is.
Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het in ’n verklaring gevra dat die polisie ’n kans gegun word om die saak verder te ondersoek.
“Die vereniging is bewus van die voorval wat na afloop van Sondag se wedstryde om die Coca-Cola-beker plaasgevind het,” lui die verklaring.
“Dit is belangrik om in dié stadium daarop te let dat die voorval vermoedelik niks met sokker te maak het nie, en dat owerhede ’n kans moet kry om dit behoorlik te ondersoek.”
“Ons vra die sokkergemeenskap om die betrokke families se privaatheid te respekteer, en nie stories of visuele materiaal te versprei nie, ook ter wille van die voortgesette ondersoek.”
In die foto hierbo: Mike Lukhubene
Fotobron: @santosmwine