Laat seks jou aan die slaap sus

Seks kan beter werk as slaappille of skaaptel!

Dit is ’n bevinding van ’n onlangse, um, steekproef wat by die jaarvergadering van die groep SLEEP in Indianapolis, VSA, gelewer is.

Die studieleiers het 53 volwassenes oor hulle slaapgewoontes uitgevra, wat slaapgehalte, seks, en slaapmedikasie ingesluit het.

Dr Douglas Kirsch, hoofskrywer, van Atrium Health in Charlotte, Noord-Carolina, het die feit onderstreep dat die wetenskaplike data oor die impak van seks en orgasme op slaapgehalte te kort skiet, het die New York Post berig. 

Die studie se mikpunt was om te meet hoe akkuraat die spottery is oor seks wat mens droomland toe stuur.

Die uitslag was insiggewend. Driekwart van die deelnemers het gesê seks en orgasme laat hulle beter slaap.Daarteenoor moes slaappille met ’n middelmatige 64% tevrede wees. 

Dit is belangrik om te noem dat dit slegs ’n voorlopige studie is, en dat daar meer navorsing oor die verwantskap tussen seks en goeie nagrus gedoen moet word.

Dit is sonder twyfel ’n interessante en vermaaklike besprekingspunt – veral die feit dat die vervaardigers en verspreiders van slaapmiddels dalk gaan wakker lê en tob oor die moontlikheid dat hulle produkte deur bedpret in die skadu gestel word.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Die verloorspan: slaappille