Legendes op parade
LAATVAT MET LUCKY: Jacques Nienaber het verlede week ewe ongeërg die spelers in die Springbokgroep voor die Rugbykampioenskap aangekondig, skryf Lucky Maree.
Daar is mos hierdie storie van die meisie wat sê sy gaan nie met iemand uit tensy hy ’n Porsche bestuur nie. ’n Ou sê: “Nottendêm gaan ek my Ferrari vir ’n Porsche verruil nie!”
Suid-Afrika stal ’n hele spul Ferraris uit.
Nie dat mens die plaaslike spelers gering skat nie – ons praat immers van Steven Kitshoff, Eben Etzebeth, Deon Fourie, Kurt-Lee Arendse, Siya Kolisi en Lukhanyo Am – maar die “reisigers” kan op hulle eie ’n span saamstel wat die wêreld verower.
Ons het voorspelers soos Vincent Koch (Stade Francais), Malcolm Marx (Kubota Spears), RG Snyman (Munster) en Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz). Kwagga Smith speel vir die pikant-benaamde Shizuoka Blue Revs. Agterlangs het ons Faf de Klerk (Canon Eagles) en Handre Pollard (Leicester). En moenie van Cheslin Kolbe (Toulon) en Damian de Allende (Wild Knights) vergeet nie.
Nieu-Seelandse kommentators praat asof die All Blacks klaar ’n hand op die Wêreldbeker het, wat nogal waagmoedig is wanneer mens in ag neem dat hulle met die ploeteraar-afrigter Ian Foster opgesaal sit. Hulle voer nasietrots ’n stappie te ver.
Met Steve Borthwick in Engeland en Warren Gatland in Wales gaan dit ook maar sukkel-sukkel, en Skotland moet Ierland of Suid-Afrika klop om die uitspeelrondes te haal. Hulle kan hoogstens as buiteperde gereken word.
Dieselfde geld vir Australië. Die beste wat mens waarskynlik ná die toernooi van hulle sal kan sê, is “Hulle het verbasend goed gevaar.”
Selfs Ierland en Frankryk, was as gunstelinge beskou moet word, sal die 40 spelers in die Springbok-kamp een kyk gee en erken dis ’n formidabele groep.
Die Springbokke is veel meer as buiteperde, maar word een stappie laer as bogenoemde spanne gereken.
Ongeag wat tussen nou en die Wêreldbeker gebeur, sal die waarheid eers op 23 September onthul word wanneer die Springbokke Ierland in hulle eerste groepwedstryd aandurf.
In die foto hierbo: Die Springbokke
Fotobron: Springbokke