Dadcare wil siklus van afwesige pa’s verbreek

Deur Buziwe Nocuze

Mthunzi Qhagana, stigter van die Izenzo Dadcare organisasie in Khayelitsha, Kaapstad, glo pa’s wat hulle pligte ontduik is verantwoordelik vir baie van die samelewing se kwale. Sy sending is om hierdie verpletterende siklus te help verbreek.

Qhagana, wat die swaarkry van ’n jeug sonder ’n pa self ervaar en op die straat beland het, het die organisasie in 2018 gestig om afwesige pa’s in te lig oor die gevolge van hulle onbetrokkenheid.

“Ek het niemand gehad wat my kon leiding gee nie. Ek het na ’n pa in my lewe gesmag, maar hy was nooit daar nie. Hy was in Johannesburg,” het Qhagana gesê.

Sy organisasie lei pa’s op om beter ouers te wees wat ’n groter rol in hulle kinders se lewens speel en ’n veilige hawe bied waar hulle kan groei en menseverhoudings smee.

Hulle staan ook seuns by wat sukkel met geestesgesondheid, spreek sake soos boelie en selfmoord aan, en kweek leierseienskappe by hulle.

Qhagana sê dis nie genoeg vir pa’s om geld huis toe te stuur nie. Die sogenaamde “ATM-pa’s” vervul nie hulle kinders se emosionele en ontwikkelingsbehoeftes nie. 

“Hulle moet in hulle kinders se lewens wees. Dis uiters belangrik dat hulle byvoorbeeld sportbyeenkomste en ander skoolaktiwiteite bywoon.”

Seuns tussen agt en 18 word in groepe van hoogstens 20 met raad bedien oor die belangrikheid daarvan om eendag ’n goeie man te wees en reg op te tree.

“Sommige kinders word aggressief en toon gedragafwykings omdat hulle na ’n vader smag,” sê hy. Hy glo die regte leiding kan verhinder dat hulle self afwesige pa’s word.

In die foto hierbo: Mthunzi Qhagana, stigter van Izenzo Dadcare, lei jong seuns in Khayelitsha township, Kaapstad, op om eendag goeie, betrokke ouers te wees

Fotobron: Verskaf