Deur Thathe Msimango
Tete Morena Dijana is vas oortuig hy kan laasjaar se sege in die Comrades Marathon herhaal.
Meer as 20 000 atlete gaan eerskomende Sondag voor Pietermaritzburg se stadsaal aantree vir die uitmergelende wedloop, en Dijana sê hy gaan die eerste een wees wat 89km later die Kingsmead Krieketstadion gaan binnekom.
Dijana, wie se wentyd verlede jaar 5:30:38 was, het onlangs ’n oefenkamp in Dullstroom se bergpaaie bygewoon, gereël deur Nedbank Hardloopklub, wat hy verteenwoordig.
Sy spanmaats sluit voormalige Comrades-kampioen Edward Mothibi in, asook Dan Matshaliwe en een van die top vrouedeelnemers, Adele Broodryk.
“Ek voel positief,” sê die verdedigende kampioen. “Ek het al my voorbereidings afgehandel. Ek is gereed.”
Dijana, wat as sekuriteitswag by die Universiteit van Noordwes werk, sê hy is bly hy is geheel en al sonder beserings.
Bongumusa Mthembu, ’n driemalige wenner, verwag ’n taktiese wedloop in die lig van beperkte tyd om voor te berei.
Die wedloop vir vroue is moeilik om te voorspel.
Broodryk, wat laasjaar derde was, voel sy het nou meer kennis van die wedloop en verwag om nóg beter te vaar.
Sy sê ook sy weet wat sy van haar teenstanders te wagte kan wees, en is voorbereid op ’n verbete aanslag van die gunsteling, Gerda Steyn, wenner in 2019, en die formidabele Yolande Maclean.
In die foto hierbo: Tete Morena Dijana