Deur Zukile Majova
Niemand behalwe president Cyril Ramaphosa se regering kan aan die staat voorskryf hoe om sy buitelandse beleidsake te hanteer nie.
Dit is die jongste reaksie van Ramaphosa oor hofuitdagings wat deur verskeie organisasies in Suid-Afrika van stapel gestuur is om sy regering te dwing om Russiese president Vladimir Poetin in hegtenis te neem as hy die land sou besoek.
Poetin en ander staatshoofde van Brics-lande is genooi na ‘n beraad van hierdie ontwikkelende lande wat in Augustus deur Suid-Afrika aangebied sal word.
Die regering bespreek steeds hoe om te reageer op ‘n lasbrief vir arrestasie wat uitgereik is deur die Internasionale Strafhof teen die Russiese president vir oorlogsmisdade in die Oekraïne.
Die amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie, het ‘n hofaansoek in die Gautengse hooggeregshof geloods waarin ‘n verklarende bevel versoek word “met die effek dat indien president Vladimir Poetin in Suid-Afrika aankom om die Brics-beraad by te woon, en by ontvangs van ‘n versoek van die Internasionale Strafhof (ISH) om Poetin in hegtenis te neem, moet die Suid-Afrikaanse regering president Poetin onmiddellik aanhou en aan die ISH oorgee”.
“Die DA loods hierdie aksie om ‘n herhaling van die Al-Basjir-sage te vermy toe die Suid-Afrikaanse regering versuim het om sy plig na te kom en ‘n arrestasie te maak in 2015,” het die party gesê.
Ramaphosa het gesê sy regering het nog nie standpunt oor die saak ingeneem nie.
“Ja, ek het opgemerk dat sommige mense hof toe is. Maar op die ou end is sake rakende buitelandse beleid en kwessies oor wie genooi word – soos ons [Portugese] president [Marcelo Rebelo de] Sousa genooi het – ‘n funksie van die uitvoerende gesag.
“Dit is nie die werk van ander mense buite die uitvoerende gesag nie. Dit is die regering, die president, wat ander staatshoofde nooi.
“Daardie funksie is nie aan enige ander persoon oorgedra nie,” het Ramaphosa aan verslaggewers by die Uniegebou gesê, waar hy die Portugese president Dinsdag ontvang het.
Intussen sal Ramaphosa en ses Afrika-staatshoofde na die Oekraïne en Rusland reis op ‘n Afrika-vredesinisiatief vir samesprekings wat tot ‘n wapenstilstand in die streek mag lei.
Op die foto hierbo: Presidente Ramaphosa en Poetin
Fotobron: GCIS