Ontmoet Kalk Bay se geliefde buskers

Deur GroundUp

Vanessa Solomons is gek daarna om te busk, veral ou goed van The Beatles en Simon and Garfunkel, maar sou graag iets meer stabiel wou hê soos optredes in ’n restaurant.

Vanessa, een van talle buskers in Kalkbaai se hoofstraat,  speel kitaar en fluit. As kind sou sy in haar bed in Manenberg lê en na die voëltjies buite haar venster se getjirp luister en saam met hulle fluit.

In haar grootwordjare het sy en haar broer hulle eie band begin met selfgemaakte instrumente. Sy het ’n kitaar met politoerblikke, spykers, hout en vislyn gemaak. Haar broer se baskitaar het bestaan uit ’n houtboks, tou en ’n besemstok.

Haar pa was haar inspirasie om musiek te maak. “Hy het kitaar en harde musiek gespeel. Musiek is salf vir die gemoed,” sê sy.

Sy is nou 59 en busk al 11 jaar lank in Kalkbaai. “Die hele Kalkbaai ken my.”

Vanessa fluit en speel elke dag van van 8vm tot 5nm in die tonnel wat na die brass Bell restaurant lei. Sy sê sy het dié plek gekies vir die eggo wat sy kry, en omdat die strate te raserig is.

“My musiek is my loopbaan. Dis my enigste inkomste.”

Sy verdien omtrent R300 per dag. “Die winter is baie moeilik,” sê sy. “Daar is minder voetgangers en dis baie koud.”

Sy woon in Westlake, en vervoer heen en weer kos haar R52.

Volgens Kaapstad se verordeninge kan mens sonder ’n permit op straat optree, mits die vertoning nie gevaarlik is nie, daar nie diere betrokke is nie, en dat buskers nie langer as 45 minute op ’n slag mag optree nie. Geraasvlakke moet ook ander mense in ag neem.

Melvin Dirks busk al meer as 30. Tydens apartheid het hy in Kampsbaai opgetree, maar die polisie het hom verjaag.

Dirks, nou 60, speel feitlik sy lewe lank saksofoon in Simonstad, Stellenbosch en Franschhoek, maar net naweke. Hy kom 10uur en en bly solank as wat hy lushet.

“Ek kan nie druk op myself sit nie,” sê hy.

Hy het begin speel toe hy nege was, nadat hy sy oom hoor speel het. “Ek is ’n natuurlike musikant. Ek het niks geweet nie, maar ek het begin speel.”

Voor Covid het hy soms tot R1 500 per dag verdien, maar sedertdien gaan dit nie meer so goed nie. Dis nou eerder iets tussen R300 en R400.

Hy woon saam met sy vrou in Pelican Park. Vervoer kos hom R64 soontoe en terug.

In die foto hierbo: Vanessa Solomons

Fotobron: GroundUp