Twee kajakkers in Kalifornië het kortstondig verstaan hoe arme Pinocchio moes gevoel het nadat hy deur ’n walvis opgeslurp is.
Dieselfde lot het hulle oorgekom op ’n ekspedisie in San Luis Obispo-baai toe ’n bultrugwalvas hulle kajakke onverwags omgedop het.
Video’s en foto’s wat hulle medekajakkers geneem het, het die bloedstollende oomblik vasgevang waarop hulle in die enorme soogdier se mond verdwyn.
Hoewel alles te gou gebeur het vir die vriende om dit te bevestig, dui die beeldmateriaal daarop dat hulle amper walviskos geword het.
McSorley het later ’n waardevolle les met omstanders gedeel: “Walvisse het ruimte nodig.”
Sy het erken dat hulle dit te na aan die voedingsone gewaag het, en dat kajakkers ’n veilige afstand van dié majestieuse kreature moet wegbly.
McSorley, wat al voorheen walvisse van naderby gesien het, het haar vriend oortuig om ’n nuwe avontuur saam met haar aan te pak. Min het hulle geweet wat op hulle wag.
Die vriende het ’n walvispaar omtrent ’n uur lank gevolg, hulle voedingspatrone waargeneem en gewag op die aankoms van groot skole visse, waarop die walvisse met mening sou toeslaan. Terwyl hulle rustig in hulle kajak gesit het, is hulle skielik deur klein vissies omring.
In ’n oogwink is hulle kajak omgedop, en hulle het die water in getuimel.
Cottriel het ’n paniekerige oomblik lank gemeen sy sien die binnekant van die walvis se bek, en instinktief ’n hand uitgesteek om hom te probeer weghou!
Albei vroue was gedisoriënteerd toe hulle weer bo die water was, onseker hoe ver die walvis weg was. Dis toe dat hulle die verstommende waarheid hoor: hulle was ’n oomblik lank in ’n walvis se mond.
In die foto hierbo: Die oomblik waarop Julie McSorley en Liz Cottriel in die walvis se mond was
Fotobron: Twitter