Bok-fokus bly op Wêreldbeker

Deur Lucky Maree

LAATVAT MET LUCKY: Dis tyd vir die Rugbykampioenskap. ’n Toernooi wat enige tyd so straf is soos die Ses Nasies of enige ander kompetisie – maar ’n oorwinning hier ten alle koste kan ’n span se Wêreldbeker-kanse belemmer, skryf Lucky Maree.

Wanneer dit by provinsiale rugby kom, is die Suid-Afrikaanse spanne altyd ’n treetjie agter die opposisie. Plaaslike spanne word geknel deur die feit dat so baie van die land se spelers vir klubs in die buiteland speel.

Op die oomblik speel omtrent 300 Suid-Afrikaners geldrugby oorsee!

Dink ’n oomblik hierroor na: Was die Stormers se nederlaag in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap so erg? Met die materiaal tot hulle beskikking, het hulle puik gevaar.

Ekstra opsies en meer diepte sou uiters waardevol vir John Dobson gewees het.

Wanneer dit by internasionale rugby kom, is die storie omgekeer. Die einste spelers wat die ruggraat van soveel oorsese spanne is, kan vir die Springbokke gekies word. 

Bo aan die lys is Handré Pollard (Leicester), Faf de Klerk (Sale Sharks), Jasper Wiese (Leicester), RG Snyman (Munster), Cheslin Kolbe (tot onlangs toeToulon), maar daar is ander aanspraakmakers ook.

Jacques Nienaber het moeilike besluite om te neem. Moet hy voluit gaan in die Rugbykampioenskap, of klaar vorentoe kyk na die Wêreldbeker?

“Ons wil altyd elke wedstryd wen, maar ons sal dalk spelers roteer in die ses toetse voor die Wêreldbeker,” het hy gesê.

As planmakers is Rassie Erasmus en Nienaber altyd aan die konkel. Sou hulle dalk in die geheim teenoor mekaar bieg dat hulle nie veel oor die Rugbykampioenskap tob nie?

Hoe teleurgesteld moet ons nou eintlik wees indien die Springbokke teen die Wallabies, die Pumas of die All Blacks sou verloor? Selfs teen al drie?

Hulle gaan beslis nie ’n B-span kies nie. Soos Nienaber dit stel, sal beserings en beskikbaarheid bepaal hoeveel hulle die span sal skommel, maar hy het bygevoeg dat mens die Wêreldbeker met momentum wil aandurf.

Dis natuurlik so. Mens doen nie proefnemings by die Wêreldbeker nie.

Die Springbokke se veldtog in die Rugbykampioenskap skop op 8 Julie op Loftus Versfeld teen Australië af.

In die foto hierbo: Faf de Klerk 

Fotobron: Twitter