Max is baas, maar Merc is terug

Deur Razeen Gutta

Max Verstappen se sege in die Spaanse Grand Prix Sondag beteken Red Bull het elk van die sewe F1 wedrenne vanjaar gewen, maar die groot nuus is dat Mercedes terug is met mening – en twee podiumplekke.

Verstappen het van die ligte tot by die vlag voorgejaag in ’n eensydige, volmaakte naweek in Barcelona vir die verdedigende kampioen, wat sy voorsprong oor sy spanmaak Sergio Perez tot 53 punte gerek het.

Sy oorwining met 20 sekondes was meesterlik, maar die stryd om elke ander plek het kykers op die punt van hulle stoele gehou, met Lewis Hamilton en George Russell wat aan Mercedes hulle eerste dubbelpodium besorg.

Hamilton was verheug oor die span se vertoning en het agterna gesê hy was so gemotiveerd soos altyd om die voorlopers in te haal.

“Wat ’n uitslag vir ons span! Ond het dit nie verwag nie, en ek haal my hoed af vir my span en almal by die fabriek,” het hy gesê.

“Die Red Bulls is steeds voor, maar ons haal hulle in. George het ook vandag puik werk gelewer. Red Bull is effens te vinnig, maar ons werk daaraan, treetjie vir treetjie.

“As ons teen die einde van die jaar hulle vlak haal, sal dit ’n uitstekende uitslag wees. Ek is steeds voluit gemotiveerd.”

In die foto hierbo: Max Verstappen

Fotobron: @Aperta