Brandende vragmotor lek diesel in Suid-Kaapse bergpas

Verkeer is herlei en daar was ‘n risiko van besoedeling van natuurlike waterbronne toe diesel uit ‘n brandende vragmotor gelek het ná ‘n ongeluk in Robinsonpas vroeg Sondagoggend.

Die pad is ‘n belangrike skakel tussen Oudtshoorn en Mosselbaai.

Op Sondag 4 Junie kort na 8vm het Oudtshoorn Munisipaliteit ‘n verklaring uitgereik om aan te kondig dat die Robinsonpas vir verkeer gesluit is weens ‘n vragmotor wat op die historiese bergroete aan die brand geslaan het. Motoriste is versoek om Outeniquapas as alternatiewe roete te gebruik.

“Die brand op die vragmotor is geblus en die span brandbestryders is nou besig om die afloop van water en diesel in die strome te bekamp. Die insleepvoertuig is op pad om die die vragmotor te haal, maar verkoelingswerk moet eers afgehandel gedoen word aangesien die voertuig nog warm is,” lui die verklaring.

Daar was geen beserings nie, maar die toneel se opruiming het baie langer geneem as die voorsiende vier ure wat die Sondagoggend aangekondig is. Kort voor 6nm het ‘n opvolgverklaring aangekondig dat Robertsonpas “gesluit sal wees tot verdere kennisgewing”.

Die brandpunt, verby Ruiterbos op die R328, is omring deur plaasgrond en bos. Nadat Oudtshoorn brandbestryders seker gemaak het dat die brand geblus is, het lede van die Tuinroete-distriksbrandweer die dieselstorting hanteer.

Die pas is onderhewig aan swaar reën en gereelde bergmis, wat sigbaarheid verminder en gevaarlike bestuurstoestande skep. Dit het oor die jare vele lewens geëis, insluitend ‘n busvrag internasionale toeriste, wat herdenk word met ‘n steen opgerig omtrent halfpad berg-op.

Robinsonpas is Sondagaand heropen, wat beteken het dat normale verkeervloei weer moontlik was met aanbreek van die nuwe werkweek.

Saamgestel deur Personeel Verslaggewer

Op die foto hierbo: Die megatrok wat naby Ruiterbos op die R328 aan die brand gery het

Foto: Verskaf